Skoolhoof verdien glo miljoen al werk hy nie

ʼn KwaZulu-Natalse skoolhoof het die afgelope sewe jaar miljoene rande verdien in salaris hoewel hy in die tydperk nie by enige skool werksaam was nie.

The Mercury berig dat Linda Leslie Gumbi nagenoeg R2 miljoen verdien het die afgelope sewe jaar. Gumbi, die skoolhoof van Embuyeni gekombineerde laerskool in Ndwedwe buite Durban, is in 2003 deur ontstoke ouers en onderwysers by die skool uit sy pos verwyder. Ondanks pogings deur die departement van onderwys om Gumbi by ʼn ander skool te plaas, sit hy steeds by die huis en het hy glo reeds R1 820 000 verdien. Volgens die departement is Gumbi een van 81 skoolhoofde in KwaZulu-Natal wat “ontwortel” is weens verskeie geskille. Meeste van die skoolhoofde is sedert 2006 nie meer by hulle onderskeie skole nie maar word steeds betaal. Gumbi is in 2002 deur sy skool se beheerliggaam daarvan beskuldig dat hy skoolgelde vermors en kos gesteel het wat deur die regering vir leerlinge verskaf is. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy sy taxi tydens skoolure gebruik het om pendelaars rond te ry. Hy is 2004 na ʼn ander skool verplaas as onderwyser maar het glo kort hierna bedank aangesien hy van mening was dat hy in ʼn meer senior pos moes wees. Gumbi sê hy het sedertdien elke skooldag by die departement se kantoor in Ndwedwe aangemeld. In 2009 het regter Leona Theron gelas dat Gumbi by ʼn skool in KwaZulu-Natal as skoolhoof aangestel moet word of as inspekteur van skole, superintendent van onderwysbestuur of adjunkhoof van onderwys. Die hof het egter nie gelas wanneer dit moet gebeur nie en die departement het nog nie aan die bevel voldoen nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.