Tien leerlinge is uit ʼn Gautengse skool geskors ná ʼn beweerde sataniese moord op ʼn medeleerling.
Dit volg nadat ʼn 15-jarige meisie Dinsdag in die Randfontein-landdroshof verskyn het vir die moord op Keamogetswe Sefularo (17) wat saam met die verdagte skoolgegaan het aan die Lukanyo sekondêre skool in Mohlakeng naby Randfontein.
Die verdagte het Sefularo glo Vrydagmiddag ná skool met ʼn mes doodgesteek. Sefularo is in die hospitaal aan haar beserings dood. Die verdagte is later die aand in hegtenis geneem. Die saak is tot 12 Maart uitgestel sodat die verdagte deur ʼn maatskaplike werker gëevalueer kan word. Sy bly tot dan in aanhouding in ʼn plek vir jeugoortreders.
Die verdagte is ook uit die skool geskors. Die skool het gesê die ander leerlinge is geskors omdat hulle moontlik deelneem aan sataniese en okkultiese rituele.