Skoolmeisie van Pretoria sterf in botsing

ʼn Skool en gemeenskap is in rou nadat hulle Saterdagoggend ʼn sportster aan die dood moes afstaan. “Sy was ʼn dierbare meisie, sy het Vrydag nog haar ouma se toonnaels geverf,” het ʼn huisvriend van die gesin Maandag aan Maroela Media gesê.

Chanelle Smit (11), ʼn leerling aan Laerskool Mayville in Pretoria en kaptein van die Gauteng Noord o.11-ringbalspan, is Saterdagoggend dood toe die voertuig waarin sy gery het naby Modimolle in ʼn ongeluk betrokke was.

Chanelle was saam haar gesin, pa Chris, ma Charmaine, suster Charmonique (14) en broer Christopher (9) in hul Honda FR-V  op die N1-deurpad na Polokwane onderweg waar Charmonique sou ringbal speel. Vriende van hulle het in ʼn ander voertuig agter hulle aan gery. Hulle het omstreeks 04:45 ʼn verkeerde afrit geneem en het die deurpad verlaat. Kort daarna het hulle ʼn u-draai op die alternatiewe-pad gemaak om te poog om terug te keer na die deurpad.

Chris het omgedraai en kort daarna ʼn groot slag gevoel. ʼn Nissan Murano het van agter teen die Honda gebots. Die Nissan het glo nie sy hoofligte aangehad nie en nie Chris óf die bestuurder van die voertuig wat hulle gevolg het, het die Nissan sien aankom nie

Die Honda het twee keer in die rondte getol waartydens Chanelle en Charmonique uit die voertuig geslinger is. Chanelle het in die pad opgeëindig en Charmonique in die veld.

Een van die mense in die voertuig wat agter hulle gery het, het Chanelle vir haar veiligheid van die pad afgehaal.

“Na die botsing het Charmaine uit die voertuig gespring en Charmonique se kombersie in die bos gesien en daarna gehardloop. Charmonique was bewusteloos en Charmaine het daarin geslaag om haar weer by haar bewussyn te kry. Sy het haar direk daarna na Chanelle gehaas. Ma, pa en dogter kon darem nog laaste woorde van liefde en troos oordra,” het die vriend gesê. Chanelle het in die ambulans, op pad hospitaal toe, aan haar beserings beswyk.

Die res van die gesin is na ʼn hospitaal in Polokwane geneem en is Sondag ontslaan.

Volgens ooggetuies op die toneel is die bestuurder van die Nissan nie ernstig beseer nie. Vriende van die gesin het die toneel na die tyd besoek en remmerke van nagenoeg 80 meter gesien.

“Chanelle was ʼn uitmuntende atleet en baie sportief. Sy het atletiekrekords laat spat en was akademies ook baie sterk. Sy was baie gewild en ʼn plat op die aarde mens,” het die gesinsvriend bygevoeg.

Chanelle word Donderdag in Pretoria begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.