Die twee skoolmeisies van Johannesburg wat Woensdagoggend dood aangetref is, is glo tydens ʼn sataniese ritueel vermoor, het EWN Donderdag berig.
Maroela Media het Woensdag berig die meisies, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, se liggame is in ʼn veld in Dobsonville in Soweto aangetref. Die leerlinge van die George Khosa Sekondêre Skool het nog hul skoolklere aangehad. Hulle het snywonde aan hul hande en nekke gehad en daar was skeermeslemmetjies en swart gebrande kerse langs hul liggame.
Die polisie het aan EWN gesê hulle ondersoek die moontlikheid dat die meisies tydens ʼn sataniese ritueel vermoor is en die polisie se okkulte-eenheid is betrokke by die ondersoek.
Een van die meisies het na bewering aan haar vriende gesê sy sal in ʼn sataniese groep toegelaat word as sy iemand naby aan haar offer. Leerlinge by die skool het gesê hulle het Dinsdag die meisies saam met twee seuns die skool sien verlaat. Hulle beweer die seuns is deel van die sataniese groep.
Die polisie vermoed die aanval was deel van ʼn ritueel om “siele te verkoop”.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Klik hier om nog foto’s van EWN te sien.
Lees ook:
Twee skoolmeisies dood gevind