Skoolseun uit weerwraak doodgemaak

ʼn Skoolseun is Woensdag vemoedelik uit weerwraak deur ‘n medeleerling by hoërskool in Noordwes doodgesteek.

Kaptein Pelonomi Makau, ʼn polisiewoordvoerder, sê ʼn 20-jarige leerling van Tshedimosetso Secondary School in Jouberton is met ʼn geroeste Okapi-mes in sy bors gesteek deur ‘n medeleerling nadat hulle in ʼn rusie betrokke was. Die slagoffer is na ʼn hospitaal geneem waar hy later dood is.

“Na wat verneem word, het die leerlinge al oor die naweek begin koppe stamp,” het Makau gesê.

“Daar word vermoed dat die verdagte die neef is van ʼn 33-jarige man wat Sondag omstreeks 23:20 vermoor is. Die slagoffer en drie seuns het ʼn vrou na haar huis vergesel waar die 33-jarige man, wat die vrou se kêrel was, haar ingewag het. Hulle het ʼn uitval gehad omdat sy die hele naweek weg van die huis was. ʼn Bakleiery het uitgebreek waartydens die 33-jarige man met ʼn mes doodgesteek is,” het Makau gesê.

Die verdagte het die 20-jarige slagoffer van die moord op sy neef beskuldig waarna hy hom Woensdag aangeval het.

Die verdagte word van moord aangekla en moet binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.