
(Foto: verskaf)
Twee ernstige outo-immuunsiektes en maande in die waakeenheid waar sy by die dood omgedraai het, kon Lizelle Kachelhoffer (43) van Johannesburg nie onderkry nie. Boonop is bevind dat haar enigste kind op die spektrum is nadat hy met outisme gediagnoseer is.
Nogtans leef sy in dankbaarheid. Sy verduur daagliks pyn en moes al die verleentheid beleef om geen beheer meer oor haar liggaamsfunksies te hê nie nadat die grootste deel van haar ingewande verwyder is.
Tog is sy as Mev. Mzantzi Afrika gekroon wat ʼn gesogte titel is. Wat niemand geweet het nie, was dat sy ʼn doek onder haar glinsterende aandrok moes dra. Sy is ook die eienaar van haar eie skoonheidsalon waar sy dit geniet om ander vroue te pamperlang omdat sy self in ʼn stadium “lelik” gevoel het.
Lizelle reik ook ondanks haar swak gesondheid met liefdadigheidsprojekte na ander uit.
“Ek was 23 jaar oud toe ek met erge Lupus en sekondêre Sjögren-sindroom gediagnoseer is, wat baie aktief is.
“Daar is talle vroeë simptome soos onder meer speekselkliere wat opswel, blou kolletjies oral oor my liggaam en bloed in die ontlasting. Jy sukkel met ʼn droë mond en seertjies op die oë.
“Ek het baie water gedrink maar Sjögren-sindroom tas alles wat nat is aan. Selfs die membrane in my longe het uitgedroog.
“Omdat die droë membrane seertjies op my derms veroorsaak het, is stukkies van my derms verwyder. Ek het in 2009 ʼn stuk van my dikderm verloor en in 2018 nog ʼn deel van my dikderm. Na beide operasies moes ek tydelik stomas dra.
“Ek sukkel ook met my hart, longe, niere, oë, bloed en gewrigte en het neuropatie in my voete wat dit potblou en yskoud maak. My kuite begin ook nou doodgaan en ʼn gevoel van spelde en naalde kry.
“As gevolg van Vaskulitis wat met bloedtoevoer na voete verband hou, is oefening uit. My voete sal brand. Ek kry ook seertjies waaruit etter loop tussen my tone en naels
“Ek stort ʼn paar keer per dag as ek kliënte het sodat my voete warm kan word.
“Dis vir my so lekker om hul toonnaels te verf, hulle hare te stileer en hul te motiveer sodat hulle met selfvertroue uit die salon uit stap.

(Foto: verskaf)
Lizelle het ook twee embolismes gehad waarna ʼn gedeelte van haar long verwyder is. Sy is permanent op chemoterapie en bloedverdunners en moet meer as 30 pille per dag neem.
“Ek kry chemo om my witbloedselle dood te maak sodat nuwes gevorm word, maar ongelukkig maak dit my rooibloedselle ook dood. Ek ly ook aan bloedarmoede.
Lizelle vertel mense het aanvanklik gedink sy het ʼn eetversteuring.
“Tog wil ek vroue daarop wys om asseblief nie so maklik vinger te wys nie want hulle weet nie wat in ʼn ander se lewe aangaan nie.”
So moes sy al in ʼn winkelsentrum hoor hoe ʼn verbyganger vir iemand anders sê dat sy seker nie eet nie.
Weens haar mediese probleme moet sy dikwels badkamer toe hardloop voor sy ʼn glips kry. Toe sy haar een keer na die geriewe vir gestremdes voor in die ry gehaas het, is sy uitgeskel.
“Ek eet min en nooit voor ek uitgaan nie. Dan moet ek sorg dat ek altyd naby ʼn toilet is.
“Ek was dekades lank in en uit dokterskamers en moes veg vir ʼn normale lewe.
“Die laagtepunt in my lewe was toe ek drie jaar gelede ʼn operasie moes ondergaan wat agt uur lank geduur het waarin my hele dikderm, rektum en koksiks verwyder is. Na drie maande in die waakeenheid, was ek nog ses maande lank bedlêend en het soms selfs in my eie uitskeiding gelê.”
Teen die tyd dat Lizelle weer kon loop het sy maar ʼn skamele 39 kilogram geweeg.
“Ek is in 2013 opgeneem na erge pyn in my regtersy en is vir longontsteking behandel. Toe x-strale geneem is, gewaar hulle ʼn groot hoeveelheid vog in my longe. Ek het bloed gehoes wat veroorsaak het dat my longe nie genoeg bloedtoevoer kry nie. Toe besef hulle ʼn klont is deur my hart en het in die regterkant van my long gaan sit wat ʼn gedeelte van my long laat wegvrot het. Toe is ek operasiesaal toe gehaas om ʼn gedeelte van die regterkant van my long te verwyder.
“Gedurende die pandemie in 2020 was my buik opgeswel en my kolon geperforeer en vol snelgroeiende prekankerselle. My hele dikderm is in daardie jaar verwyder.
“Die dokters het die dunderm verby die anus gestrek dat hy kan rek en hulle het toe ʼn sakkie in die vorm van die letter J gemaak. Daar was twee chirurge, ʼn internis en ʼn narkotiseur in die operasiesaal.
“Tydens my herstel het ʼn nierspesialis, rumatoloog en internis my gehelp.”
Die koste het R1,5 miljoen beloop maar haar mediese fonds het alles gedek. Weens die pyn moes sy morfienplakkers en skedule 6-pynpille gebruik.
Sy weet nie wat sy sonder haar liewe man Jaco, haar tienerseun Gerhard en haar vriendinne sou gemaak het nie. Hulle het haar letterlik en figuurlik gedra.
Skoonheidskompetisie
Hoe op aarde kry sy dit reg om die lewe verder bruisend aan te pak?
“Ek wou weer mooi voel en my selfvertroue terugkry en ek wou hê my geliefdes moes my weer in iets anders as nagklere en hospitaaldrag sien. As ek heeldag tuis gesit het, sou ek net depressief geword het.
Een van die uitrustings wat sy vir die Mev. Mzantzi Afrika-kompetisie gedra het, moes uit weggooi-artikels gemaak word. Toe neem sy heel gepas as Wonder Woman deel.
Benewens haar kroon as Mev, Mzantzi Afrika, het sy ook die titel vir openbare keuse, beste onderhoud en beste styl opgeraap. Die titel wat vir haar die meeste beteken het, was Mev. Persoonlikheid wat deur die ander deelnemers aangewys is.

(Foto: verskaf)
Immuunsiektes
“Ek voel dat mense deernis en empatie moet hê vir mense wat met Lupus en Sjögren’s moet saamleef. Dis ook my wens dat enigiets, nieteenstaande jou omstandighede, moontlik is.
“Ons leef van dag tot dag. Moet net nie die siekte word nie. Leef daarmee saam.
“Ek wil ook hê mense moet weet dat enigiets moontlik is.”
Liefdadigheid
Ondanks haar daaglikse uitdagings is sy toegewyd aan gemeenskapdiens. Sy samel kos, komberse en toiletware by bevoorregte skole in en skenk dit dan aan leerders in armer skole en in plakkerskampe. Sy help ook elke jaar ʼn meisie om die matriekafskeid by te woon.
“Ek deel nie alles op Facebook nie want ek voel dit is iets tussen my en die Here. Hy is so goed vir my.
“Dis lekker om ander te help en te voel ek het nog ʼn doel in die lewe.”

(Foto: verskaf)
Outisme
Nog ʼn groot uitdaging in haar lewe was toe haar seun op 27 weke van swangerskap gebore is. Sy was van haar 20ste week af in die hospitaal.
Hy het as jong kind baie vloermoere gegooi en kon nie ordentlik praat nie.
Daar is later voorspel dat hy aan Aspergersindroom ly en nooit ʼn gewone skool sou kon bywoon nie. Hy was ver agter en kon op die ouderdom van 10 nog nie regtig lees of skryf nie.
Lizelle het geweier om dit te aanvaar en het vir haar seun geveg.
“Gee my seun net ʼn kans,” het sy gepleit.
“Ek het hom by ʼn privaat skool ingeskryf en het elke dag saam met hom skool toe gegaan en saam met hom geleer. “
Haar deursettingsvermoë het vrugte af gewerp.
“Ek het my alles gegee vir hom.”
“My seun is vanaf gr. 7 in Newton House en is elke jaar as die Dux-leerling in sy graad en top akademiese presteerder aangewys. Hy kry soms volpunte vir wiskunde en wil na skool gaan medies studeer of studeer om ʼn aktuaris te word.
“Omdat hy op die spektrum is, het ek Gerhard geleer om in mense se oë te kyk. Ek het hom ook drukkies gegee en met prente van gesigte oor verskillende emosies geleer.”
Hy vind dit net soms moeilik om humor te verstaan, en soos ander op die spektrum, kan hy glad nie jok nie. Hierdie kinders is baie eerlik.
Vandag is hy gewild onder sy skoolmaats.

(Foto: verskaf)
Gesin
Lizelle het al baie verliese in haar lewe gely. Toe sy 17 jaar oud was, het haar 10-jarige sussie, Tharine, weens bindweefselkanker gesterf. Sy is op vyf daarmee gediagnoseer toe ʼn gewas by haar gevind is.
“Tharine was ongelooflik lief vir die Here. Terwyl ek haar styf vasgehou het en sy terminaal was, het sy vir my gesê sy is glad nie bang om te sterf nie en sy kan nie wag om na Hom toe te gaan nie.
“My broer Renier, is twee jaar jonger as ek en ons is baie na aan mekaar as gevolg van die trauma waardeur ek is.
“Hy is fiks, sterk en gesond.
“Jaco is ʼn entrepreneur en behandel my soos ʼn prinses. Hy aanbid die grond waarop ek loop. Hy sien mooi na ons om. Ek het ʼn engel gekry. Al die maande wat ek in die waakeenheid was, het hy elke oggend en aand verwese langs my bed gestaan. Hy is my alles.

(Foto: verskaf)
“Ek staan soggens op en besluit om gelukkig te wees. Ek kan nie wag tot dit beter gaan nie.
“My dokters het gesê hulle kan niks vir my doen nie.
“Daarom moet ek ʼn keuse maak om elke dag ʼn glimlag op my gesig te sit. Ek weet ek moes al verskeie kere gesterf het – maar ek leef – en dit is waarop ek fokus. Alles is net genade.”
Mevrou jy is n ster duisend.
Liefste Lizelle, jy is ‘n voorbeeld vir ons. Jou man se liefde vir jou kan amper aangevoel word aan hierdie kant van die skerm. Ek het in 1998 Guillaine Barre gekry nadat ek die griepinspuiting geneem het. Ek dra tot vandag toe nog die gevolge, maar die Liewe Vader was baie baie goed vir my. Ongelukkig het dit veroorsaak dat ek maar baie baie versigtig is en die afgelope twee – drie jaar soos ‘n melaatse behandel was.
Sjoe, wat n getuienis. Dan wil ons kla. Respek Lizelle, ek salueer u.
Wat ‘n mooi inspirasie… Dankie vir die herhinnering dat God ALTYD by ons staan. Sterk staan en hou so aan! As daar maar net meer mense was wat soos jy dink en doen ! <3
Wat ‘n vrou!
Baie van ons wat so ondankbaar is , word afgebring aarde toe deur ‘n ystervrou soos jy.
Baie seeninge en sterkte.
Respek vir hierdie hele gesin!