Skors Maharaj, vra DA

Mac Maharaj. Foto: SAPA

President Jacob Zuma moet sy woordvoerder Mac Maharaj skors, het die DA Vrydag gesê na nog ʼn berig wat beweer dat Maharaj en sy vrou omkoopgeld ontvang het.

“Die president kan nie voortgaan met ʼn woordvoerder wie se geloofwaardigheid in twyfel getrek word nie,” het Mmusi Maimane, nasionale woordvoerder van die DA, gesê. Maimane het intussen ook gevra dat die openbare beskermer die bewerings moet ondersoek. Mail & Guardian het Vrydag berig dat Maharaj se skoonsuster Shirene Carim gesê het dat Maharaj en sy vrou ‘n Switserse bankrekening geopen het waarin omkoopgeld betaal is. Die omkoopgeld het na bewering verband gehou het met kontrakte vir die rybewysstelsel wat in die 1990’s in Suid-Afrika ingefaseer is. Daar is ook berig dat Maharaj en sy vrou geld van die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik ontvang het. Dit volg op soortgelyke berigte ‘n paar jaar gelede. Rudi Krause, Maharaj se regsverteenwoordiger, sê dit is nie die eerste keer wat die bewerings gemaak word nie en dat dit vals is. Die saak teen Maharaj, die destydse minister van vervoer, is later teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.