ʼn 51-jarige man is Dinsdagoggend in Zondi, Soweto, in die oprit van sy vriend se huis met onder andere ʼn aanvalsgeweer doodgeskiet.
Ao. Kay Makhubela, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die slagoffer is deur twee verdagtes aangeval. “Een patroon van ʼn R5-aanvalsgeweer, en tien R5-patroondoppies is op die toneel gevind,” het Makhubela gesê. Sy sê daar was ook nege 9mm-patroondoppies op die toneel.
Die slagoffer was vermoedelik ʼn taxibaas. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Die polisie ondersoek die voorval. – SAPA