Skrootwerwe vir eers veilig

ʼn Verbod op die verkope van gebruikte onderdele is uit die voorgestelde Nasionale Padverkeerswet se regulasies verwyder, het die departement van vervoer Dinsdag gesê.

“Lede van die parlement se kommer oor die implikasie van só ʼn verbod is in aanmerking geneem,” het John Motsatsing, senior vervoerbeampte, aan die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer, gesê.

In die oorspronklike konsep is die verkope van onderdele van deregistreerde voertuie verbied, wat handelaars van gebruikte onderdele skade sou berokken het.

Ian Ollis, LP van die DA, het eerste sy beswaar aangeteken wat ander LPs oorgehaal het om aan te dring op ʼn verandering in die regulasies. “Jy sou mense geraak het wat ʼn bestaan maak deur gebruikte onderdele te verkoop en sulke ondernemings sou ten gronde gegaan het indien niks van ʼn deregistreerde voertuig nie gebruik kon word nie,” het Ruth Bhengu, voorsitter van die komitee, gesê. “Die departement het gevolglik wysigings voorgestel wat die verkope van gebruikte onderdele, wat nog in ʼn goeie toestand is, toelaat.”

Die oorspronklike konsep sou glo ʼn verwoestende impak op skrootmetaalhandelaars en die versekeringsbedryf gehad het.

“Skrootwerwe sou moes sluit, mense sou hul werk verloor, en mense sou nie tweedehandse onderdele in die hande kon kry nie, maar gedwing word om ten duurste nuwe onderdele aan te koop,” het Bhengu bygevoeg.

Motsatsing het gesê die regulasies is bedoel om diefstal van motorvoertuie vir onderdele te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannes De Beer ·

Dieselfde besware teen skrootwerfhandelaars geld seker ook tweedehandse meubelhandelaars.

Weer ‘n geval van oorregulering omdat die regstelsel onbevoeg is om misdaad te bekamp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.