Skrywer se ouers op plaas aangeval

Riana Scheepers

Die bekende skrywer, Riana Scheepers, se ouers is Donderdagaand op hul plaas buite Vryheid in KwaZulu-Natal aangeval.

Scheepers, wat ook sedert 2002 Huisgenoot se sosiale raadgewer in die rubriek Vra dr. Adri is, het op Facebook geskryf dat haar ouers, Adriaan en Myra Scheepers, aangeval en beroof is: “Hulle is met pistole aangehou, vasgebind en geslaan. Deur die genade kon my pa dit regkry om alarm te maak, waarna die booswigte weggehardloop het, maar met die lone vir die plaaswerkers. Hulle het baie gou hulp gekry – baie dankie aan die polisie, mediese personeel en veral my suster en swaer wat by hulle is en hulle ondersteun. Ons is dankbaar vir genade.”

Scheepers het later vanmiddag op Facebook geskryf: “Ek het ‘n rukkie gelede met Myra gepraat. Sy sê ek moet baie dankie sê vir elkeen wat vir hulle liefde en ondersteuning stuur, dit vou hulle op die oomblik toe in ‘n wolk van genade. Die menslike gees móét triomfeer oor die boosheid – en Myra en Adriaan hét beide ‘n gees van onstuitbare drif en energie.” Scheepers het gevra dat daar nie foto’s van haar ouers geplaas word nie.

Die polisie in KwaZulu-Natal het die voorval Vrydagmiddag aan Maroela Media bevestig en sê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.