Slaggat eis jong bruid

Argieffoto

ʼn Vrou is dood en haar man, met wie sy onlangs getroud is, het ernstige beserings opgedoen toe hul voertuig Maandagaand tussen Memel en Vrede in die Vrystaat teen ʼn steilte afgerol het.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het Dinsdag gesê daar word vermoed dat die pad tussen die twee dorpe waarop die egpaar gery het, in ʼn baie slegte toestand was en dat die voertuig moontlik ʼn slaggat getref het, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en van die pad af gery het.

“Die egpaar, albei in hul 20s, is beide uit die voertuig geslinger terwyl dit teen die steilte afgerol het. Die vrou het veelvoudige kritieke beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Jackson gesê. “Die man het ernstige beserings opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en ook vir skok en verkluiming behandel. Een van die beamptes het in die koue sy eie baadjie uitgetrek en om die man gesit om hom warm te kry. Die man is met ʼn ambulans na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Jackson gesê.

Volgens Jackson het paramedici gesukkel om by die ongelukstoneel uit te kom omdat die pad swak belig was en hulle stadig moes ry om al die slaggate te vermy.

Die name van die slagoffers is nog nie bekendgemaak nie. Die polisie ondersoek die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Helizna Kilian ·

Uitgeslinger…dus geen veiligheidsgordels aangehad nie? Jammer oor hulle sterfte, maar sou dit so hartseer geëindig het as hulle vas was?

Gert Strydom ·

@helizna. Dit jou aanname. Daardie stuk pad is vrek sleg en vol slaggate. As jou kar die pad verlaat, is daar geen skouer wat kan help om jou op jou wiele te hou nie en gaan jou kar rol. En dan beteken die gordel nie noodwendig iets nie. Beslis nie soos Gauteng se tolpaaie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.