Slaghuiseienaar in Brits doodgeskiet

Gerhard Rudolph (65), die eienaar van ʼn slaghuis in Brits, is Donderdagaand omstreeks 19:00 in sy slaghuis tydens ʼn rooftog doodgeskiet.

Volgens lt.kol. Lesego Metsi, ʼn woordvoerder van die Noordwes-polisie, het drie gewapende mans Gerhard, sy seun, Gerrie (31), en ʼn 32-jarige vroulike werker, in die Geluk-slaghuis Superette oorweldig.

“Na wat verneem word was Gerhard besig om sy slaghuis te sluit toe die voorval plaasgevind het. Die mans het die slaghuis binnegestorm en geld geëis,” het Metsi aan Maroela Media gesê.

Die rowers het daarna losgebrand op die drie slagoffers. Gerhard is op die toneel dood verklaar. Gerrie is glo vier keer geskiet en is na die Meulmed-hospitaal in Pretoria geneem vir verdere behandeling. Die vrou is in haar skouer gewond en na ʼn hospitaal in Brits geneem.

“Die verdagtes het weggekom met ʼn onbekende bedrag geld, ʼn 9mm-pistool, bankkaarte en tjekboeke. Hulle het glo met Rudolph se Toyota Corolla gevlug. Die gesteelde voertuig is later sowat 2km van die toneel verlate gevind,” het Metsi bygevoeg.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, twee sake van poging tot moord en ʼn saak van besigheidsroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.