Vyf slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het, gaan met die samewerking van AfriForum van 26 tot 29 September 2013 ’n roete van 1000 kilometer met kwadfietse vanaf Johannesburg na Durban ry ter bewusmaking van plaasmoorde. Die groep, bekend as die Frischgewaagd Dirt Riders, gaan deur vyftig plase ry, waar hulle literatuur en pamflette sal versprei om bewusmaking oor plaasmoorde te kweek. Die groep gaan ook ’n beroep op die minister van polisie, Nathi Mthethwa doen om plaasmoorde te prioritiseer.
Deel van die groep is Bernadette Hall, wie se man, David Hall verlede jaar voor haar oë op hul plaas naby Fochville in Noordwes vermoor is. Die verdagtes wat van die moord op mnr. Hall aangekla is, is in die hof onskuldig bevind nadat forensiese bewysstukke wat op die moordtoneel gevind is, nie deur die polisie opgevolg is nie. Dit, ten spyte daarvan dat me. Hall hulle tydens ’n uitkenningsparade as haar man se moordenaars uitgewys het.
Die groep gaan Donderdag om 9:30 vanaf Carnival City in Johannesburg vertrek. Hulle sal by die volgende dorpe oornag:
- Standerton – 26 September
- Newcastle – 27 September
- Weenen – 28 September
- Ballito – 29 September
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat bewusmaking oor plaasmoorde van kardinale belang is, veral in die lig van die feit dat mnr. Mthethwa nie bereid is om dit te prioritiseer nie. “Die mense se pro-aktiewe optrede dien as voorbeeld vir bekommerde lede van die publiek wat nog nie betrokke geraak het nie.”
Die groep sal ook bewusmaking doen vir AfriForum se petisie vir die prioritisering van plaasmoorde, wat in November vanjaar by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word. Die petisie is elektronies beskikbaar en kan onderteken word by www.hoelanknog.co.za.
Julle mors julle tyd. Die minister gaan niks vir julle doen nie. Dis nie noodwendig rassisme nie, die regering is maar net oor die algemeen treurig. Versprei die pamflette, maak boere bewus en paraat. Soos in die ou dae sal ons seker ook maar moet laer trek en met gelaaide gewere gaan slap…
Sterkte. Kyk uit vir vragmotors en taxi’s op die pad. Deesdae net so dodelik en onvoorspelbaar.