Slagoffers se lewens onherroeplik verander

‘n Pa en seun is Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof gevonnis op verskeie aanklagte van verkragting.

Regter Roland Sutherland het Booi en Rodgers Makhubela gesamentlik 26 lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting van 10 vroue tussen 2008 en 2009 onder die voorwendsel dat hulle taxibestuurders is.

Booi (50) is 14 lewenslange vonnisse opgelê en sy seun, Rodgers (26) is 12 lewenslange vonnisse opgelê. Booi se 14-jarige dogter het begin huil toe die vonnis uitgespreek is.
Sutherland het beskryf hoe elke slagoffer se lewe weens die verkragting verander is. Een slagoffer is erg aangerand en met ‘n skerp voorwerp gesteek. Sy is nou bang om ‘n taxi te gebruik en sy het nagmerries. ‘n Ander slagoffer het selfmoord oorweeg. Een slagoffer het alkohol tot so mate begin misbruik dat haar kinders nou uit haar sorg geneem is. ‘n Ander vrou moet nou self na haar ses kinders omsien, aangesien haar man nie vrede kon maak met dít wat met haar gebeur het nie.
Sutherland het ook gesê dat Booi ‘n sterk invloed op sy swak opgevoede seun gehad het. Die paar se optrede teen vroue is “barbaars”, het Sutherland gesê.

Booi is boonop 15 jaar tronkstraf opgelê vir elk van die ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede en 10 jaar vir elk van die nege klagtes van ontvoering. Hy is ook tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir aanranding.

Rodgers is ‘n bykomende 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, 10 jaar elk vir agt ontvoeringsklagtes, 10 jaar vir roof en sewe vir aanranding.

Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Een van hul medebeskuldigdes, Isaack Nxumalo, dien reeds 20 jaar tronkstraf uit nadat hy skuld beken het.

Booi se broerskind, Collins Chauke, se saak word tans in die streekshof in Alexandra aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.