Slegs 5 van die 19 gestrande walvisse gered

NSRI se reddingswerkers by Noordhoek Foto: NSRI

Vyf van die 19 walvisse wat by Noordhoek in Kaapstad gestrand het, is Sondagmiddag in die see vrygelaat.

“Een van hulle het egter weer by Simonstad gestrand,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê. “Hy lewe steeds en ons probeer hom red, maar sy gesondheid het al baie agteruitgegaan.”

Die vyf loodswalvisse is op sleepwaentjies van Noordhoek na Simonstad se vlootbasis geneem waar hulle in die see gelaat is. Lambinon sê nege van die ander walvisse moes uitgesit word, en vyf het natuurlik gesterf. Die 19 volwasse walvisse het Sondagoggend gestrand.

Die polisie, seeredding en ander dienste het gepoog om die soogdiere met lakens en water lewend te hou. Die strand is gesluit en inwoners is versoek om weg te bly. Pogings om hulle van daar in die see terug te laat was onsuksesvol. Klik hier om meer te lees.

In 2009 het 55 moordwalvisse by Kommetjie in Kaapstad gestrand. Honderde vrywilligers en reddingswerkers het ingespring en omtrent ‘n dosyn walvisse gered. Die ander moes geskiet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.