Slegs een slagoffer in JHB gru-botsing

Foto: ER24

Een persoon is dood en talle beseer nadat ʼn swaarvoertuig wat ʼn vrag stene vervoer het, in ʼn kettingbotsing met 26 voertuie, waaronder ʼn minibustaxi, betrokke was. “Gelukkig is net een persoon dood, en nie vyf soos voorheen vermoed is nie,” het Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder ER24, later bevestig.

Die ongeluk het Maandagoggend in spitsverkeer op die noordelike baan van die N1-snelweg naby die 14de laan-afrit in Roodepoort, plaasgevind.

“ʼn Vrou was vir omstreeks ʼn uur en ʼn half lank in haar voertuig vasgekeer nadat die vragmotor haar voertuig teen die betonmuur aan die kant van die hoofweg vasgepen het. Sy moes uit die wrak gesny word,” het Jackson gesê.

Sy sê buiten ʼn man wat dood is, het sowat 25 mense verskeie matige tot ernstige beserings opgedoen.

Santi Steinmann, ʼn woordvoerder Netcare 911, het gesê die beseerdes is na verskeie hospitale in die omgewing geneem, onder andere die Netcare Olivedale- en Netcare Garden City-hospitaal.

“Dit is nog nie bekend wat die ongeluk veroorsaak het nie, dit word deur die polisie ondersoek,” het Steinmann gesê.

Klik hier om meer foto’s van die voorval te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.