Slegs Engels in howe voorgestel

Regter Cynthia Pretorius het Woensdag tydens die sitting van die Regterlike Dienskommissie gepleit dat Engels Suid-Afrika se enigste hoftaal moet wees.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), en die burgerregte organisasie AfriForum het Donderdag streng hierop reageer.

Volgens Kobus Muller, uitvoerende beampte van die VRA, is hierdie voorstel ondeurdag, onverantwoordelik en ongrondwetlik. “Dit ignoreer die reg op toegang tot die regspleging van die gewone burger ongeag tot watter taalgemeenskap hy/sy behoort. Dit strek tot die nadeel van die amptelike gebruik van Afrikaans en alle amptelike tale behalwe Engels en takel die aansien van al hierdie tale af,” het Muller gesê.

Daar word ondermeer aangevoer dat Engels gebruik moet word aangesien die meeste regters nie Afrikaans magtig is nie.

“Daar is heeltemal genoeg regters – wit en swart – wat Afrikaans magtig is om Afrikaanse gedingvoerders se sake in Afrikaans te verhoor. Net so is daar nou vanweë die transformasie van die regbank genoeg regters wat sake in die ander amptelike inheemse tale kan verhoor en in daardie tale uitsprake kan gee,” het hy gesê.

Muller sê voorts hulle versoek in die besonder regters wat met respek van beter behoort te weet, om hulle van standpunte ten gunste van Engels te weerhou. “Sodanige standpunte eggo ou imperialistiese sentimente en is nie in pas met Suid-Afrika se inheemse behoeftes nie en voldoen ook nie aan die eise van behoorlike regspleging nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, maak Artikels 6 en 9 van die Grondwet asook die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale van 2012, dit duidelik dat alle amptelike tale gelykmatig behandel moet word en die sprekers daarvan in hulle moedertale bemagtig moet word.  “Dit kan nie gedoen word deur slegs een taal amptelik te gebruik en ewe veel teen die ander tien tale en hulle sprekers te diskrimineer nie,” het sy gesê.

AfriForum wil graag sien dat die RDK regslui bewus maak van die sentrale rol wat taalregte as ʼn basiese mensereg speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marlene ·

Cynthia Pretorius volgens my is jy heel van die pad af. As ek in die hof moet kom sal ek beslis my taal van voorkeur praat ,dis nou AFRIKAANS en basta met wat jy se

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.