Die smokkel van ontwettige items is glo die rede vir twee bloedige voorvalle wat verlede week by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad plaasgevind het.
Delekile Klaas, die streekkommissaris van korrektiewe dienste, het aan die Cape Times gesê tien gevangenes is beseer in twee afsonderlike gevegte tussen twee bendes.
“Die hoofrede vir die gevegte was vir beheer oor items soos dwelms en selfone. Ons het ʼn ondersoek van stapel gestuur om uit te vind hoe die items in die gevangenis beland het,” het Klaas gesê.
Klaas sê hulle ondersoek ook die moontlikheid dat ʼn geringe aantal beamptes met die gevangenes saamwerk. Die bende-leiers is ook geïdentifiseer en in ʼn ander area geplaas.