Smouse maak amok in JHB

Onwettige smouse in Johannesburg. Foto: The New Age / Twitter

Onwettige smouse in Johannesburg. Foto: SAPA

Onwettige smouse het Donderdag amok gemaak in Johannesburg se middestad en die omgewing tot ʼn stilstand gebring.

Die smouse het gesê indien hulle nie in die middestad mag besigheid doen nie, mag mense in winkels ook nie besigheid doen nie. Hulle het ook gesê die Johannesburgse munisipaliteit en die Johannesburgse hooggeregshof neem hulle nie ernstig op nie.

“Ons is honger. Hoe is ons veronderstel om vir ons gesinne kos te gee hierdie Kersfees? Al die winkels moet toemaak,” het Dorcas Mlangeni, wat met groente smous, gesê.

Mlangeni het gesê hy doen al vir die afgelope twee jaar lank besigheid in Kerkstraat.

“Ons verloor inkomste terwyl beamptes salarisse verdien en ʼn goeie Kersfees gaan hê.”

Die smouse het in groepe geloop en winkelbestuurders in Kerk-, Small- en Breestraat forseer om hul deure te sluit. Hulle het diegene wat nie hul opdrag uitgevoer het nie, met klippe bestook. ʼn Winkelier wat hulle verontagsaam het, is geskop en met ʼn stok geslaan. Hy het uiteindelik ingestem om sy winkel te sluit nadat die smouse dit wou plunder.

Die winkels in die besige Smallstraat is ook toegemaak.

Die polisie en Johannesburgse metropolisie het oomblikke later by die toneel opgedaag, maar die winkels het gesluit gebly. Twee smouse is in hegtenis geneem, die situasie was teen 14:00 weer kalm.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Woensdag beslis dat die smouse se dringende aansoek om weer in die middestad handel te dryf, nie belangrik genoeg is nie. Die saak is tot volgende jaar uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Maar die mense in die winkels betaal dan huur… Nou hoe werk die smouse se platkoppies?

Eben ·

AmY ….. ek sou ook so doen saam die smouse. Die senario is dat dit aan hulle belowe is … die regering het dit aan hulle toegestaan en nou wil die anc omdraai. Neeeee ek hoop hulle maak dit moeilik vir die anc wat dis belowe!

Natuurlik AmY stem ek nie saam … maar ten minste staan die ouens bymekaar!

PURE BOER ·

Ek stem saam. Darem werk die mense om aan die lewe te bly. Nie soos die wat roof vir n lewe nie. As die mense nie hulle geld so kan verdien nie, sal geweld en roof net meer raak.

Stinkfinger ·

Gee die mense staatshulp en help hulle om ‘n ordentlike bestaan te maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.