Die ongewone sneeu wat tot diep in die suide van die VSA geval het, lewer verskeie verhale op van deursettingsvermoë.
In Birmingham, Alabama, was dr. Zenko Hrynkiw by die Brookwood Medical Center toe hy vir ‘n nood-breinoperasie na die Trinity Medical Center ontbied is. Weens die sneeu het die verkeersknope die verkeer in die stad tot stilstand gebring, en dr. Hrynkiw het net ‘n paar blokke verder met sy motor gevorder. Dit is toe dat hy die oorblywende 10 km met dapper en stapper aanpak. Die selfoonontvangs was power, en die polisie het ‘n soektog na hom op tou gesit maar hy het, voor hy bystand kon kry, self by die hospitaal aangestap gekom, verneem waar die pasiënt is en die operasie uitgevoer.
In Chicago, in die ysige noorde van die land, is ‘n vrou nou al weke lank in haar huis vasgekeer omdat die agterdeur vasgevries is. Die deur het vasgevries van ‘n lekkende waterpyp van die bure. Die gestremde vrou kan weens haar gestremdheid nie van die voordeur gebruik maak nie omdat die trappies te steil is. Die vrou, River Bully, woon al sedert 1950 in die huis.
Bronne: AL, Chicago CBS
Foto: Sneeu in Boston, CSM