Snelweg-betoging nié goedgekeur

Argieffoto

Die Johannesburgse metropolisie het Donderdag gesê dat Cosatu nie toestemming gekry het vir Vrydag se beplande betoging om die stad se hoofweë teen die voorgestelde e-tolstelsel te blokkeer nie.

Dit skrik die vakbondfederasie egter nie af nie. Patric Craven, ʼn woordvoerder van Cosatu, het gesê hulle gaan die besluit betwis. “Ons hoop dat ons daarin sal slaag om die regering te oortuig. Die betoging is ‘n wettige en grondwetlike betoging met baie steun van die publiek,” het Craven Donderdag gesê.

Cosatu dreig om Vrydag verskeie hoofweë in Johannesburg tot ʼn stilstand te bring deur teen ʼn slakkepas daarop te beweeg. Cosatu het op 6 Desember die eerste keer met voertuie die strate ingevaar om teen die e-tolstelsel te betoog. Dumisani Dakile, ʼn woordvoerder van Cosatu, het Woensdag gesê tydens hul vorige betoging is twee bane vir verkeer oop gelaat om verby te beweeg, maar Vrydag gaan dit nie weer die geval wees nie. Die hoofweë wat dalk reeds van 08:30 deur die beplande betoging geraak gaan word, is die M1-noord, N1-suid, N12 en die M2-noord in die Johannesburg-omgewing.

Supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het vroeër gesê hulle gaan Cosatu verhinder as hulle met die betoging voortgaan. “Toestemming vir die betoging is nie toegestaan nie, omdat betogers tydens die vorige konvooiprotes op die snelweg stilgehou het en op die snelweg gestap het. Dit is ‘n oortreding van die Wet op Nasionale Padverkeer,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat wetstoepassers op ʼn gereedheidsbasis geplaas gaan word om te verseker dat Vrydag se betoging nie voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.