Landdros Keith Page het beveel dat ʼn verslag rakende die uitslag van ʼn toksikologie-toets op Louise de Waal teen 1 Februarie beskikbaar sal wees wanneer Steyn weer in die hof moet verskyn. Die hof het gehoor dat dit moeilik is om die nadoodse ondersoek verslag te voltooi sonder die toksikologie-verslag. Terwyl Steyn terug na die aanhoudingselle geneem is, het De Waal se ma vir hom geskree: “Jy kan vir my kyk. Dit was my dogter”. Talle gemeenskapslede het ook die hofverrigtinge bygewoon.
Steyn staan tereg op 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering, ses van seksuele aanranding en ʼn klag van moord. Steyn het na bewering op 12 Oktober vir De Waal ontvoer terwyl sy en ʼn vriendin op pad was skool toe. Haar verkoolde lyk is later dieselfde dag op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn het homself die volgende oggend by die Margate-polisiestasie oorgegee. Die polisie het bevestig dat Steyn erken het dat hy die sogenaamde “Sondag-verkragter” is. Die “Sondag-verkragter” het verlede jaar na bewering twee skoolmeisies in Pretoria-Wes ontvoer. Die een meisie het glo uit die ontvoerder se bakkie gespring en is dood. Die ander meisie is verkrag. Die “Sondag-verkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg.