Lede van ʼn groeiende jeugkultuur, “izikhothane” het Saterdag R100-note in Braamfontein, Johannesburg, opgeskeur en weggegooi.
Die groep vernietig gewoonlik glo duursame goedere en klere in ʼn poging om te wys hoeveel geld hlle het, berig SowetanLIVE. Izikhothane beteken “hulle wat lek” in isiZulu. Hul optrede het chaos veroorsaak toe mense agter die karre aangehardloop het om die geskeurde note te vang. Omstanders het van die note weer aan mekaar probeer vasplak.
Hlengani Mathebula, woordvoerder vir die Reserwebank, het gesê dit is ʼn kriminele oortreding om geld op te skeur. “Jy oortree artikel 34(F) van die Suid-Afrikaanse Reserwebankwet 90 van 1989,” het Mathebula gesê. “Of jy dit in jou eie privaatheid doen of in ʼn openbare plek, dit is nie aanvaarbaar nie.”
Enigiemand wat gevang word wat geld opskeur, kan van opsetlike beskadiging van staatseiendom aangekla word.
Herinner bietjie aan daardie ou Amerikaanse Indiaanse gebruike om waardevolle items in riviere te gooi, en ook sekere ou Europese gebruike.