Só verloop gebeure: Inge Lotz-moord

Inge Lotz

Sonskynkind se moord steeds raaisel

Op 16 Maart 2005 is die mooi, slim Matiestudent, Inge Lotz in haar woonstel in Stellenbosch vermoor.

Sedertdien bly die saak steeds in die nuus terwyl die moordenaar nog vry rondloop. Dié saak word ook gereeld aangehaal as ʼn voorbeeld van polisiebrouwerk op ʼn misdaadtoneel.

Inge was die enigste kind van prof. Jan en mev. Juanita Lotz van Bellville, hoewel haar pa destyds in Bloemfontein gewerk het. Inge was in 1993 die eerste keer in die nuus toe sy een van die Tygerberg-kinderkoor se nuwe lede geword het. In 1999 het sy Unisa se eksamen vir juniors vir toonkuns en musiekteorie met lof geslaag. Die volgende jaar het sy in haar matriekeksamen agt vakke geskryf en vierde op die Wes-Kaapse verdienstelys gekom. So berig Die Burger op 29 Desember 2000:

Harde werk, toewyding en geloof is waarin Inge Lotz (18) van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville glo om haar doelwitte te bereik. Inge, met ‘n kop vir syfers, het groot planne vir die toekoms. Sy wil eers ‘n B.Com.-graadkursus in die aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en dan sommer dadelik met ‘n MBA begin.”

Vyf jaar later is die 22-jarige Inge weer in die nuus. Sy was toe vir haar meestersgraad in wiskundige statistiek ingeskryf na sy haar honneurs die vorige jaar met lof geslaag het.

Toe lui die treurige berig in Die Burger soos volg: “In die ander voorval is me. Inge Lotz, ‘n uitblinker-Matiestudent wat vyf jaar gelede een van die provinsie se vier topmatrikulante was, wreedaardig en onder raaiselagtige omstandighede in haar woonstel op Stellenbosch vermoor. ‘n Vriend het haar liggaam Woensdagaand omstreeks 22:30 op ‘n rusbank in die splinternuwe woonstel op die eerste verdieping van die Shiraz-woonstelkompleks naby Welgevonden gevind. Sy is glo herhaaldelik met ‘n skerp voorwerp in die nek en bors gesteek.

Haar gewese kêrel, Fred van der Vyver is van die moord aangekla, en later vrygespreek.

Die tydlyn van die verhaal verloop soos volg:

5 April:

Die Burger berig dat die polisie inligting eis van die privaat speurders, mnre. Neil van Heerden en George Fivaz, wat deur Inge se ouers gehuur is, na hulle aangedui het dat hulle drie verdagtes geïdentifiseer het.

 April 2005:

Die polisie dui aan dat goeie vordering met die ondersoek gemaak word. Alle moontlikhede word ondersoek.

Fred van der Vyver se pa kla oor die hardhandige wyse waarop Fred vier uur lank deur die polisie ondervra is. Hy dien ʼn klag teen die polisie in “na elke reël in die boek verbreek is.” Kort hierna dui die polisie aan dat hulle nog geen moordverdagte identifiseer het nie.

Inge en Fred van der Vyver

3 Mei 2005:

Fred van der Vyver se regsverteenwoordiger bevestig dat Fred ʼn moordverdagte is. Hy is dronkgeslaan dat Fred die enigste verdagte is, maar dat ʼn klag nog nie teen hom ingedien is nie.

15 Junie 2005:

Fred van der Vyver gee hom drie maande na die moord oor aan die Cloetesville-polisiekantoor in Stellenbosch. Dit was kort ná die uitslae van die forensiese ondersoeke bekend geword het. In ʼn verklaring dui Van der Vyver aan dat hy bereid is om ʼn leuenverklikkerstoets te ondergaan wat sy onskuld sal bewys.

Junie 2005:

Die polisie dui aan dat hul saak teen Van der Vyver waterdig is.

16 September 2005:

Die saak word met meer as ʼn jaar uitgestel na dit bekend geword het dat sommige van Van der Vyver se oudkollegas as getuies geroep gaan word.

Oktober 2006:

ʼn Internasionale vingerafdrukdeskundige getuig dat die vingerafdruk van Van der Vyver doelbewus vervals is.

Fred van der Vyver se poging om die moordsaak teen hom van die rol geskrap te kry, misluk en die saak word tot 12 Februarie 2007 uitgestel.

12 Februarie 2007:

Fred van der Vyver verskaf besonderhede van sy alibi.

Fred se regspan beskuldig op die eerste dag van die hervatte verhoor die polisie van growwe onreëlmatighede wat grens aan bedrog.

Maart 2007:

Regter Deon van Zyl sê in sy 22 jaar op die regbank het hy nog nooit so ʼn totale gebrek aan dissipline van polisie op ʼn misdaadtoneel teëgekom nie.

Die veelbesproke ornamentele hamer kom in die hof ter sprake. Kapt. Frans Martiz getuig dat dié hamer, wat Inge se ouers aan Fred geskenk het, die moordwapen kon wees.

Wimpie Boshoff, boesemvriend van Inge, getuig dat sy ure voor haar moord vir hom gesê het sy dink dis verby tussen haar en Fred.

Desember 2007:

Fred van der Vyver word na ʼn verhoor, wat onderbroke oor nege maande geduur het, onskuldig bevind, en bars in die hof in trane uit. Die Burger berig soos volg:

“In sy uitspraak het regter Deon van Zyl die staat se drie hoofomstandigheidsgetuienis – die bloedmerk op die badkamervloer, die ornamentele hamer en die vingerafdruk op die DVD-houer – verwerp. Oor Van der Vyver se alibi-verweer het Van Zyl die volgende gesê:

 

“Selfs al was dit uiteindelik net sy woord dat hy die hele middag nog by die werk was, staan dit bo twyfel dat daar geen aanduiding is dat hy in enige stadium gedurende die middag ongesiens die gebou kon verlaat en weer binnekom sonder om op CCTV-kamera vasgevang te word nie.  In hierdie verband is dit opmerklik dat daar geen getuienis was dat iemand by sy werk of by die oorledene se woonstel die middag sy kenmerkende wit bakkie met Oos-Kaapse registrasienommer gesien uitbeweeg het of inkom nie. Ondanks intensiewe toetse is geen spoor van bloed aan sy klere of in sy bakkie gevind nie”.

 

Van Zyl het ook sy twyfel uitgespreek of die moord vooraf beplan was:

 

“Die aard en omvang van die oënskynlik onbeheerste en verwoede aanval op die oorledene strook geensins met ’n fyn beplande moord nie.”

 

Van Zyl het daarop gewys dat iemand nie op suspisie skuldig bevind kan word nie:


“Wanneer ’n pragtige en uiters begaafde jong meisie se lewe op dié manier onbegryplik wreed kortgeknip word, is dit te verstane dat die gemeenskap eis dat iemand daarvoor moet boet. “Die hof kan egter niks meer doen as wat die getuienis voor hom toelaat nie.”


Swak ondersoekwerk van die polisie het Van Zyl genoop om in sy uitspraak kommentaar daaroor te lewer:

 

“Die vraag ontstaan onwillekeurig of daar in die eerste plek genoegsame gronde was om hom voor hierdie hof te daag. “Hoe traag ek ook al is om die polisie se funksionering te bevraagteken, wil dit voorkom of daar in die saak se beginstadium ondoeltreffende en soms onbeholpe ondersoekwerk plaasgevind het.”

Julie 2008:

Fred van der Vyver se regsverteenwoordigers maak daarop aanspraak dat hy doodsdreigemente gekry het. Sy moord moes glo soos ʼn ongeluk lyk.

Oktober 2008:

Inge se ouers dien ʼn klag by die Menseregtekommissie in oor beeldmateriaal van hul vermoorde dogter wat sonder sensitiwiteitswaarskuwing oor Carte Blanche uitgesaai is.

Mei 2009:

Inge se ouers laat vaar sonder ʼn verduideliking die siviele eis van R8,5 miljoen wat hulle teen Fred van der Vyfver ingestel het.

Junie 2010:

ʼn Boek, Fruit of a poisoned tree – A True Story of Murder and the Miscarriage of Justice, deur die ekonoom en vryskutskrywer, Antony Altbere, handel duidelik oor die Lotz-moord en veroorsaak ʼn gefladder. Veral die teenstrydige verklarings wat ʼn tikverslaafde, Werner Carolus, afgelê het wat onder meer lui dat hy ʼn ooggetuie van die moord was, word skerp bespreek.

November 2011:

Van der Vyver se regspan voer aan dat die vervolgingsgesag nooit hul kliënt sou vervolg het as die polisie nie oor die bewyse gelieg het nie.

20 April 2011:

Brig. Attie Trollip getuig in die siviele saak waarin Fred van der Vyver R46 miljoen weens kwaadwillige vervolging eis, dat hy nooit daaraan getwyfel het dat Fred die korrekte verdagte was nie. Vroeër het die advokaat van die polisie in sy openingsrede aangevoer nie een van die 42 polisielede wat aan die saak gewerk het, het getwyfel dat Van der Vyver wel die moordenaar was nie.

April 2011:

Verskeie getuies in die Inge Lotz-saak dui aan dat hulle na die verhoor nog niks weer van die polisie gehoor het nie, al het die polisie aangedui dat die saak vir verdere ondersoek na die Valke verwys is na Fred van der Vyver vrygespreek is.

Augustus 2011:

Die Kaapse Hooggeregshof bevind in ʼn siviele saak wat Fred van der Vyver aanhangig gemaak het, dat hy inderdaad kwaadwillig vervolg is. Regter Anton Veldhuizen striem twee polisielede. Die Burger berig soos volg hieroor:

Dit was veral teenoor oudkapt. Bruce Bartholomew dat regter Veldhuizen nie sy woorde gespaar het nie. “Hierdie getuie se mening is in alle opsigte nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Ek bevind dat hy nie eerlik kon geglo het dat sy mening reg is nie.” Bartholomew het destyds getuig dat Van der Vyver met Lotz se moord verbind kan word deur ’n skoenafdruk in haar badkamer.

 

“Daar het ’n plig op hom gerus om enige twyfel wat hy gehad het, en wat hy na my mening inderdaad gekoester het, aan die vervolgingsgesag oor te dra. Dit het hy nie gedoen nie.

 

“In stede daarvan het hy volhard met sy mening. Hy het in dié opsig, met die nodige opset, hom skuldig gemaak aan die aanstigting van vervolging.”

17 November 2011:

Die Minister van Polisie kry by die appèlhof verlof om te appelleer teen ʼn vroeë suksesvolle eis wat Fred van der Vyver vir kwaadwillige vervolging weens die moord ingestel het. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vroeër verlof tot appèl geweier en die polisie het hierop ʼn versoekskrif aan die appèlhof gerig. Die saak sal in 2012 voor die appèlhof dien.

Maart 2012:

Inge se ouers loof ʼn beloning van R1 miljoen uit aan die persoon wat inligting voorsien wat die moord kan oplos. Twee Bloemfonteinse prokureurs word aangestel om deur die inligting te werk wat versamel word.

Maart 2012:

Sewe jaar na Inge se moord, stel haar ouers die afgetrede baasspeurder, Piet Byleveld, aan om die raaisel te probeer ontrafel.

11 April 2012:

Byleveld weier om hom oor die polisie-ondersoek uit te laat, maar meen tog speurders moet eers ervaring in die uniformtak opdoen, en kursusse deurloop voor hulle speurders word.

23 April 2012:

Die baasspeurder, oud-brig. Piet Byleveld, doen ʼn beroep op al Inge se vriende om met hom in verbinding te tree, na haar pa hom ʼn maand tevore aangestel het om die moord op te los. Hy sê hy is baie na-aan die bepaling van die motief vir die moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Estelle Maartens ·

Ek volg die verloop sedert die moord en hoop dat Piet Byleveld die skuldige sal ontbloot

Marlene ·

Baie dankie vir hierdié, hierdie blokkie om ook my sè te sè. Vir 7jr lank loop ek elke dag met die gedagte ‘Inge Lotz – moordsaak. Ons koop elke Sondag die koerant ‘Rapport, my man lees dit eerste, na elke bladsy vra ek het jy van Inge Lotz gelees? Ek kan nie wag dat Piet Byleveld, die Speurder van SA die moordsaak moet oplos nie. Ek kan nie wag vir n antw nie. Dink baie dae – as ek net kan weet wie dit is kan Die Here my maar wegneem, net dit weet dan kan ek maar my laaste asem uitblaas. Ek kan nog baie sè as ek wil. Op my yskas is n artikel in Rapport gewees’ 1 April 2012 bl 10 geplak. ‘Piet Byleveld gaan Inge Lotz se moord oplos – Pa. Al die legkaart stukkies is daar, net 1 ontbreek en dis net Speurder P. Byleveldt wat die 1 legkaart kan kry. Inteendeel het hy dit al gekry. Haar glimlag sien ek voor my. Soos ek sè ek kan nog baie sè. As dit my enigste dogter was, sou ek ook die waarheid wou weet. Dankie en So Baie dankie vir Piet Byleveldt. ONS WAG IN Spanning’

Marlene ·

Hi is daar dan niemand wat hier iets wil sè nie? Hoekom so stil?

RONEL ·

Marlene, ons dink aan jou! Mense weet nie wat om te se nie, daarom antwoord hulle nie. hulle weet julle is stukkend. Piet Byleveld werk aan my vriend Marius Pienaar se saak ook. ons weet wie dit gedoen het, maar die bewyse kort. asook, die nadoodse ondersoek verslag is nie onderteken – dus, is die saak hierdie week in Zambie uit die hof gegooi. nalatigheid deur n patoloog. waar is die regverdigheid?

sterkte vir jou!

Marlené ·

Ja die 16e Maart 2013 is die AGT JAAR terug. Waar is ons antwoord? My hart gaan uit na Inge se pa en ma op die dag! Ons dink aan julle op die dag’ Marlené ‘

Riaan ·

ek het al gewonder hoekom daar so baie van Fred se klere by haar ma se huis was ; en ook wie die bouers ondervra het wat teels of iets gele’ het by haar woonstel en of iemand al met die Spar gaan praat het oor video footage i.vm skoonmaakmiddels of iets wat kon gebruik word vir watookal – maar ten einde waar gaan Mr Byleveld nou bewyse kry na hoeveel jaar? En verder watter tipe bewyse sal hy moet kan gebruik of wie?Iemand was daar naby op daai dag miskien- tuinier; garden service ; security – n sekuriteit kompleks het tog sekerlik kameras en mense wat daar werk; of hoe – iemand moes iets gesien het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.