Só verloop gebeure: “Modimolle-monster”

Johan Kotze, 'n verdagte in die saak. Foto verskaf deur die SAPD

3 Januarie 2012

Na bewering dwing Johan Kotze (51) glo drie mans om sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, in sy huis in Modimolle beurtelings te verkrag en haar liggaam te skend. Die drie mans, Mmapuru Peter Mohlako (34), Andries Paparona Sithole (42) en Frans Mphaka (38) was glo tydelik in diens van Kotze. Kotze het ook glo sy 19-jarige stiefseun, Conrad Bonnette, na sy huis ontbied en hom toe na bewering doodgeskiet.

Kotze is laas gesien toe hy in sy wit Toyota Fortuner vlug slaan. Die ander verdagtes het te voet gevlug.

4 Januarie 2012

‘n Landswye mensejag word deur die polisie van stapel gestuur. Kotze, as verdagte in die saak, se foto word deur mediahuise publiseer. Johan Kotze se identiteitsdokument toon aan dat hy in Namibië gebore is. ‘n Gerug op Beeld dat ‘n man in Kimberley in verband met die voorval in hegtenis geneem is, doen die rondte, maar die polisie ontken dit ten sterkste.

Die pa van die seun wat doodgeskiet is, deel vertroulik aan Maroela Media mee dat Ina Bonnette, sy eksvrou, glo na Johan Kotze se huis gelok is. “Sy sê hy het haar gebel en gevra dat sy na sy huurhuis in Modimolle kom sodat hulle kan praat oor die egskeiding. Hulle is die afgelope paar maande vervreem terwyl hulle besig is om te skei.

5 Januarie 2012

Volgens Beeld het Kotze glo ‘n brief op die toneel gelos. “Ek is moeg vir die lewe en moet my nie soek nie,” het Kotze glo gesê.

6 Januarie 2012

Die polisie bevestig dat hulle steeds op soek is na Kotze. Intussen is die Valke ook by die soektog betrek. Beeld berig dat die 19-jarige Conrad Bonnette, ‘n universiteitstudent, glo aanhoudend gepleit het dat Kotze sy lewe moet spaar. Volgens Ina Bonnette het Conrad glo aanhoudend gesê: “Oom, moet my asseblief nie skiet nie.” Die seun is uiteindelik in sy kop en bors geskiet.

8 Januarie 2012

Die polisie versoek mediahuise om nie inligting oor die mensejag te publiseer voordat hulle dit nie amptelik bekend gestel het nie. Die polisie vermoed dat Johan Kotze interne inligting ontvang en las dat ‘n interne ondersoek gedoen moet word. The Star berig dat Interpol, ʼn internasionale polisie-organisasie, ook gevra is om op die uitkyk te wees vir Kotze.

Johan Kotze net ná sy inhegtenisname. Foto: www.ecr.co.za

Terwyl ʼn nasionale en internasionale mensejag van stapel gestuur is, het Kotze glo net buite die dorp in Limpopo waar die vermeende aanval plaasgevind het, weggekruip. Polisie het ʼn foto van hom ná die aanval op 4 Januarie uitgestuur. Surinda du Preez, ʼn inwoner van Modimolle, het Dinsdagaand rondgery in ʼn poging om haar kleuters aan die slaap te maak, en het toe die wit Toyota Fortuner gewaar.

“Ek het by ʼn stopstraat stilgehou toe ek ʼn wit Toyota Fortuner met Vrystaatse nommerplate gewaar het. Ek was dadelik op my hoede, maar ek was bang en het aanhou ry,” het sy aan The Star verduidelik. Sy het haarself egter oortuig dat dit Kotze was en het begin rondry om hom te soek. Sy het die voertuig toe in ʼn winkelsentrum se parkeerarea sien staan en Kotze binnekant gewaar waar hy koeldrank, water en twee blikkies blikkiesvleis gekoop het.

“Ek was yskoud. Ek kon nie beweeg of asem haal nie. Ek het net na hom gestaar en toe paniekerig geword,” het Du Preez gesê. Sy het weggejaag en die polisie in kennis gestel. Haar eggenoot Anton en haar swaer, Werner du Preez, het terselfdertyd die gemeenskapsforum polisielede in kennis gestel. Die twee mans het begin om die 4×4-roetes buite Modimolle te fynkam en het Kotze se verlate sportnutsvoertuig opgespoor waar dit glo in ʼn boom vasgejaag het.

Polisie-helikopters is ontplooi om na Kotze te soek. Die polisie is oortuig dat hy te voet rondhardloop.

Johan Kotze tydens sy inhegtenisname. Foto: www.diepos.co.za

11 Januarie 2012

Een van die verdagtes, Frans Mphaka, word in Makapanstad naby Hammanskraal in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem.

Kotze gaan na die huis van een van sy vriende in Modimolle, Dirk van der Merwe. “Ek het my gat afgeskrik,” het van der Merwe gesê. “Al wat hy [Kotze] vir my gesê het, is: “Ons moet praat.” Van der Merwe het gesê dat hy gaan koffie maak, maar hy het die polisie gekontak en só word die weeklange mensejag tot ʼn einde gebring.

Volgens die polisie het Kotze geen weerstand gebied nie en het glo begin huil. EWN berig dat Kotze glo gesê het hy wil sy vervreemde vrou “net so klein bietjie seermaak”.

13 Januarie 2012

Johan Kotze en Frans Mphaka verskyn saam in die hof. Lede van die gemeenskap en selfs die ANC se vroueliga daag buite die hof op om hul protes teen die gruweldaad te betoon. Die twee word onderskeidelik van 17 verskillende misdrywe aangekla, insluitend moord, sameswering tot verkragting, verkragting, seksuele aanranding, ontvoering en algemene aanranding. Die saak word tot 10 Februarie uitgestel.

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Die Pos-koerant deel Ina Bonnette haar belewing van die voorval.

Conrad Bonnette word uit die Hervormde Kerk op Bela-Bela begrawe.

‘n Derde verdagte in die saak word ook in Makapanstad in Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer.

14 Januarie 2012

Die vierde verdagte in die saak word ook in Makapanstad in Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer.

Johan Kotze verskyn in die hof. Foto geneem en op Twitter gelaai deur die gebruiker @ewnreporter

16 Januarie 2012

Mmapuru Peter Mohlako en Andries Paparona Sithole, twee verdagtes in die saak, verskyn in die hof. Hul saak word tot 10 Februarie uitgestel en hulle sal dan saam met Johan Kotze en Frans Mphaka in die hof verskyn. Ina Bonnette laat vaar haar reg om as verkragtingslagoffer anoniem te bly, sodat Kotze se naam en foto in die media gesirkuleer kan word.

9 Februarie 2012

Op die vooraand van die verdagtes se verskyning in die hof, ontvang Ina Bonnette ‘n boodskap van ondersteuning van Jessica Foord, wat in 2008 deur vier mans voor haar pa verkrag is. “Jy moet geloof hê in jouself en weet dat Suid-Afrika jou ondersteun. Jy is ʼn baie brawe vrou en ons sal more aan jou dink. My raad aan jou sal wees om kalm te bly in die hof, praat die waarheid en moenie laat sy (Kotzé) regsverteenwoordigers jou intimideer nie.”

10 Februarie 2012

Johan Kotze in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Die saak teen die vier beskuldigdes word in die landdroshof vir verdere ondersoek tot 11 Mei uitgestel. Die saak sal dan moontlik na ʼn hooggeregshof verwys word en ʼn verhoordatum vasgestel word. Talle mense, waaronder vroueregte-groepe en ondersteuners van Ina Bonnette betoog voor die hof.

Ina Bonnette woon nie die hofverrigtinge by nie weens ‘n dreigoproep wat sy na bewering ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Hy is die grootste ‘MONSTER’. Kannie glo witmense daal al so erg nie. Alles net oor jalosie ens. Hy moet lewenslank kry en nog meer, en hoop hy word ook elke dag verkrag en seer gemaak in die tronk. Geen mercy vir hom!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.