Soektog duur voort na vermiste mans

Die soektog na vier mans wat vermis word na hul visserboot Donderdagaand by die Keurboomsriviermond naby Plettenbergbaai omgeslaan het, is vanoggend voortgesit.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê die mans – Jeffrey Wildeman, sy broer Llewellyn, Henry Waits en Roland Figland, is almal in hul 40’s en 50’s en is van New Horizons op Plettenbergbaai. Die Burger berig dat die vier mans saam met Leatitita Wildeman (43) en haar seun Luan (8) visgevang het toe die boot glo teen ʼn sandbank gebots en omgeslaan het. Wildeman se liggaam is Donderdag gevind terwyl Luan se liggaam vroeg Vrydagoggend gevind is. ʼn Groep familielede en vriende het gister op die toneel bymekaargekom en ʼn nagwaak gehou. Die NSRI se reddingspanne, die polisie, die polisie se duikeenheid, Wes-Kaapse nooddienste asook die Skymed-helikopter is op die toneel om na die vermiste mans en boot te soek.

Maroela Media het vroeër berig dat die NSRI Donderdagaand omstreeks 20:30 ingelig is dat ʼn klein vissersboot nie ná ʼn visvanguitstappie op die Keurboomsrivier teruggekeer het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.