Soektog na boer, paramedikus voorlopig opgeskort

Die soektog na ʼn boer en ʼn paramedikus wat vroeër die week deur vloedwater meegesleur is in die Oos- en Wes-Kaap is voorlopig opgeskort.

Die soektog na Fritz Myburgh, ʼn boer van Kareedouw, is Saterdag voorlopig opgeskort weens gure weer. Lt. kol. Priscilla Naidu, ʼn polisiewoordvoerder, sê die rivier vloei tans baie sterk. “Dit reën ook tans en die soektog sal Maandag voortgesit word indien die weer dit toelaat.” Myburgh en sy vrou, Poppie, se bakkie is Dinsdagaand van ʼn laagwaterbrug deur vloedwater meegesleur. Poppie kon daarin slaag om uit die bakkie te klim en aan ʼn klip vas te klou tot hulp opgedaag het.

In die Wes-Kaap is die soektog na ʼn vermiste paramedikus ook Saterdagoggend voorlopig opgeskort. Die ambulans waarin die paramedikus gery het, is ook Dinsdagoggend deur vloedwater meegesleur. Die ambulans is Woensdag sowat 200 m van die burg gevind. Keri Davids, ʼn woordvoerder van die nooddienste, sê dit is nog nie duidelik wanneer die soektog voortgesit sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae