Soektog na vermiste rugbyspelers duur voort

Die foto is kort na die tragedie in Blouwaterbaai geneem. Foto: NSRI

Die name van die rugbyspelers wat vermoedelik Sondag by Blouwaterbaai in Port Elizabeth verdrink het, is bekendgemaak terwyl ʼn reuse soektog na hulle voortduur.

TimesLive berig dat ʼn reuse reddingsoperasie na enige oorlewendes gister voortgesit is. ʼn Speler van die Motherwell Rugbyklub het Sondag verdrink en vyf van sy spanmaats word vermis nadat hulle deur ʼn sleurstroom die diepsee ingetrek is. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Craig Lambinon, het vroeër gesê hulle is omstreeks 12:00 Sondagmiddag in kennis gestel dat 21 mense, waaronder rugbyspelers van die Motherwell Rugbyklub en lede van die publiek, in die moeilikheid geraak het. Lambinon sê 15 mense is uit die water gered en op die strand vir skok behandel. Hy sê lewensredders het tot 3 persone op ʼn slag uit die water getrek. Een van die oorlewendes, Zolani Mcopele (29), sê hulle wou na rugbyoefening die sand van hulle lywe afspoel. “Oomblikke nadat ek die water binnegegaan het, kon my voete nie meer die sand voel nie. Almal het begin skree. Dit het 45 minute gevat om hulp te kry. Teen die tyd was twee van my spanmaats reeds dood en het hulle lyke langs my gedryf. Die noodkrete en die prentjie van my spanmaats wat verdrink het sal my altyd bybly.” Die rugbyspeler wat Sondag verdrink het, is intussen geïdentifiseer as Masixole Myosana (29). Sy vermiste spanmaats is Xolisa Nyembezi (27), Arthur Peters (30), Lundi Muleka (29) en Avuyile Tshabalala (18). Die vyfde persoon se naam kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien sy familie nog nie bereik kon word nie. Gesinslede van die vermistes het gister berading ontvang by die Raymond Mhlaba Sportsentrum waar hulle ook aangeraai is om die ergste te verwag.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.