Soldate dagvaar minister vir miljoene

Die minister van verdediging, Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Unie (Sanwu) sê honderde van sy lede het lastereise van nagenoeg R98 miljoen teen die minister van verdediging, Lindiwe Sisulu, ingestel.

Ongeveer ʼn duisend soldate is in Augustus 2009 afgedank nadat ʼn protesoptog by die Uniegebou gewelddadig geraak het. Die nasionale sekretaris van Sanwu, Pikkie Greeff, sê geen regdenkende persoon sal die feit aanvaar dat hy of sy as ʼn krimineel uitgekryt word deur die staat sonder die nodige bewyse nie. Die soldate eis nou R80 000 elk vir laster en R20 000 elk vir ʼn verlies aan inkomste. Greeff sê 645 eise van R100 000 elk is reeds aan die departement gestuur. Hy sê ʼn totaal van 985 dagvaardings sal teen die einde van die maand aan die departement beteken word. ʼn Woordvoerder van die departement van verdediging, Ndivhuwo Mabaya, sê egter die eise is ʼn “foefie en ʼn mors van tyd”. “Hoe kan jy ʼn brief in ʼn koevert ontvang en beweer dit is lasterlik? Hulle beweer hulle is die slagoffer van laster. Deur wie?” het Mabaya gevra. Die soldate het in Augustus 2009 ʼn kennisgewing ontvang rakende hulle “voorlopige afdanking”. Volgens die kennisgewing moes soldate binne 10 dae bewys hoekom hulle nie permanent afgedank moet word nie. Dit het tot ʼn twee jaar lange hofsaak gelei tussen Sanwu en die weermag. Die saak gaan voort in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein nadat die Pretoriase hooggeregshof reeds twee keer bevind het die kennisgewings is onwettig. Die weermag is intussen besig om ʼn R12 miljoen eis in te stel teen Sanwu vir skade wat glo tydens die optog by die Uniegebou aangerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.