‘Soldate in SAR moet terugkeer na SA’

Argieffoto van Suid-Afrikaanse soldate. Foto: GCIS/SAPA

Versoeke is aan die toeneem dat die oorblywende Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek na Suid-Afrika moet terugkeer.

13 Suid-Afrikaanse soldate is dood, 27 beseer en een word vermis nadat hulle Saterdag met rebelle slaags geraak het en rebelle die hoofstad Bangui oorgeneem het. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, sê daar is geen rede vir die Suid-Afrikaanse soldate om in die Sentraal-Afrikaanse Republiek te bly nie aangesien hulle soontoe gestuur is om ʼn president te beskerm wat gevlug het. President François Boizizé het saam met sy familie gevlug nadat die hoofstad oorgeneem is.

Die Vryheidsfront Plus en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) het ook gevra dat die troepe moet terugkeer na Suid-Afrika. “Ons glo dat die soldate onmiddellik uit die area verwyder moet word om enige verdere lewensverlies te voorkom,” het Pieter Groenewald, woordvoerder van die Vryheidsfront Plus, gesê. Hy sê die regering moet volle verantwoordelikheid neem vir die sterftes. Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van Sanwu, sê die Suid-Afrikaanse troepe is ʼn “mandaat gegee wat onmoontlik is om uit te voer.” Die Verenigde State van Amerika en die Europese Unie het die staatsgreep veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.