Solidariteit: “Wit gestremdes nou finaal uit regstellende aksie geskop”

Dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, saam met 'n paneel van wit mense met gestremdhede.

Die vakbond Solidariteit sê voorgestelde wysigings aan die Wet op Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB-wet) sal tot gevolg hê dat wit mense met gestremdhede nou finaal uit regstellendeaksie-prosesse geskop gaan word.

Volgens Solidariteit sal dit lei tot die weglating van wit mense met gestremdhede uit die Wet op Gelyke Indiensneming se definisie van die aangewese groep. Solidariteit het vandag in ʼn voorlegging aan die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, gevra dat wit mense met gestremdhede ingesluit word in alle vorme van bemagtiging wat ten doel het om onbillike diskriminasie aan te pak. Solidariteit sê hy wil die neiging om wit mense met gestremdhede al meer uit bemagtiging te sluit, stuit en het derhalwe aangedring dat dié groep by alle definisies in wetgewing wat bemagtiging reguleer, ingesluit moet word.

Solidariteit sê in praktyk sal die wysigings tot gevolg hê dat indien ʼn maatskappy ʼn werklose wit persoon met ʼn gestremdheid in diens neem, die maatskappy nie punte vir sy swartbemagtigingstelkaart sal kry nie. “Mense met gestremdhede is deel van die benadeelde groep op grond van hulle gestremdheid en nie op grond van hulle ras nie,” verduidelik dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. “Die paradoks is nou dat wit mense met gestremdhede uit die definisie van die aangewese groep gehaal word op grond van hulle ras en nie hulle gestremdheid nie. Swart mense met gestremdhede bly egter deel van die bevoordeelde groep en daar word spesiale voorsiening vir hulle gemaak op grond van hulle gestremdheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter Cloete ·

Die boom (regstellende aksie)word aan sy “vrugte” geken. Dit moet volledig teengestaan word. Daar is niks goed aan enigiets wat suiwer op rassegronde tussen mense onderskei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.