Solidariteit aanvaar goud-aanbod

goudDie vakbond Solidariteit het die ooreenkoms wat vandag by die Kamer van Mynwese vir ʼn salarisverhoging vir werknemers in die goudbedryf bereik is, verwelkom. Die finale aanbod van ʼn 7,5%-verhoging vir Solidariteit se vaardige lede en ʼn 8%-verhoging vir intreevlakwerknemers is effens laer as die aanbod waarop die vakbond gehoop het, aangesien die verhoging van jaar twee van die ooreenkoms slegs verbruikersprysinflasie plus 0,5 persentasiepunte en ʼn minimum gewaarborgde verhoging van 6,5% behels. Die vakbond se lede het, in ag genome die huidige omstandighede in die goudbedryf en in die hoop dat die skikking tot die volhoubaarheid van die bedryf sal bydra, die aanbod aanvaar.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die vakbond is nogtans bekommerd oor die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) wat moontlik die finale aanbod kan verwerp. Drie van die vier vakbonde wat by die onderhandelinge vir werknemers in die goudbedryf betrokke is, behoort die aanbod te aanvaar. “Ons is ook bekommerd oor Harmony Gold wat steeds in gebreke bly om derduisende rande se ongemagtigde mediesefonds-aftrekkings aan sy werknemers terug te betaal. Harmony skuld soveel as R30 000 in terugbetalings aan van sy werknemers en sowat R4 miljoen se terugbetalings aan Solidariteit-lede. Solidariteit sal nie Harmony se kwaadwillige versuim om die terugbetalings te doen as ʼn middel gebruik om die loonooreenkoms te vertraag nie, maar eerder alternatiewe regsmiddele teen Harmony oorweeg.”

Du Plessis sê dit is in landsbelang dat die ooreenkoms in die goudbedryf so gou as moontlik onderteken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GB ·

Mooi manne, julle verstaan die woord “VOLHOUBAARHEID”! Wel gedaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.