Solidariteit: ‘Absa en Standard Bank steeds SA se duurste banke’

Solidariteit het Donderdag bekendgemaak dat Absa en Standard Bank steeds die twee duurste banke in Suid-Afrika is.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het in sy tweede bankkosteverslag bevind dat die bankkoste van Absa se goedkoopste rekening met 8% gestyg het. Die verslag vergelyk die bankkoste van verskillende persoonlike bankrekeninge van die vyf groot handelsbanke, naamlik Absa, FNB, Standard Bank, Nedbank en Capitec met mekaar. “Wanneer die goedkoopste rekeninge van die vyf banke wat in die SNI se verslag ondersoek is vergelyk word, is Capitec se Global One-rekening die goedkoopste. Dié rekening se gemiddelde bankkoste oor agt verskillende gebruiksprofiele beloop R67,35 per maand en is sedert 2010 glad nie verhoog nie,” verduidelik Paul Joubert, senior navorser van die SNI. “Daarteenoor is Absa se goedkoopste opsie sy Silver Package-rekening. Dié rekening se gemiddelde maandelikse bankkoste is egter meer as dubbeld as dié van die Capitec-rekening en het boonop tussen 2010 en 2011 met 8%, van R140,90 tot R152,15, gestyg.”

Elke bank se goedkoopste rekening in 2010 en 2011
(Koste bereken as ʼn gemiddeld van agt transaksieprofiele, met minimumsaldo’s en die effek van rente of verbeurde rente buite rekening gelaat.)

Luidens die verslag is Standard Bank en Absa steeds oor die algemeen die duurste van die vyf banke in die studie, en Capitec en FNB die goedkoopste. Capitec het oorhoofs die goedkoopste transmissierekening, maar indien ʼn kliënt ʼn oortrokke fasiliteit, tjekboek en kredietkaart direk aan die rekening gekoppel wil hê, het FNB oor die algemeen die goedkoopste lopende rekeninge. Nedbank is die derde goedkoopste bank.

Die bankkoste van verskeie kombinasies van maandelikse transaksies is op verskillende bestedingsvlakke bereken. Die ondersoek het net gefokus op die kernaspekte van transaksionele rekeninge om vergelykings so billik as moontlik te maak. Daar is ook net gefokus op persoonlike rekeninge. Besigheidsrekeninge is dus nie by die vergelykings ingesluit nie.

“Solidariteit se bankkosteverslag het verlede jaar tot ʼn baie groter bewustheid oor die koste van bankdienste onder verbruikers gelei,” verduidelik Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. “Verbruikers doen nou meer moeite om ingelig te wees en is bereid om hulle persoonlike rekeninge te skuif om beter waarde vir geld te kry. Die invalshoeke in banke se onlangse bemarkingsveldtogte wat spesifiek op ingeligte verbruikers gemik is, wys dat banke nie meer op tradisionele lojaliteit kan staatmaak nie, maar moet meeding vir verbruikers wat daarop ingestel is om beter waarde vir hulle geld te kry.”

Die SNI maan in die verslag dat verbruikers nie eenvoudig moet aanvaar dat die rekening wat ʼn bank vir hulle aanbeveel, die goedkoopste opsie is nie. “By Absa, Standard Bank en Nedbank is die transmissierekeninge, wat as goedkoop bemark word, selde werklik die goedkoopste opsies,” verduidelik Hermann.

Volgens Hermann is die SNI se bankkosteverslag ʼn goeie riglyn vir mense wat hulle bankkoste wil evalueer, maar elke individu se bankgewoontes is uniek. “Mense moet dus besluite neem op grond van hulle eie gebruiksprofiele,” sê Hermann.

Die Solidariteit Beweging het na aanleiding van die bekendstelling van die bankkosteverslag verlede jaar ʼn aparte ondersoek oor die bankkoste van die groot handelsbanke se maatskappyrekeninge gedoen. Die Beweging het op grond van die ondersoek 35 van sy bankrekeninge van Absa na FNB geskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.