Solidariteit beklink oorwinning in regstelsaak teen Tshwane-munisipaliteit

Die arbeidshof in Johannesburg het Donderdag beslis dat die Tshwane-munisipaliteit onbillik regstellende aksie toegepas het deur nie een van sy werknemers vir ʼn hoër pos te oorweeg nie weens sy velkleur.

Die vakbond Solidariteit sê ʼn skikking is vroeër die week deur sy lid, Marco de Sampaio, en die Tshwane-munisipaliteit bereik. ʼn Hofbevel is vandag in die arbeidshof in Johannesburg gegee wat onder meer bepaal dat gelyke indiensneming nie as ʼn kriterium vir die vul van die pos waarvoor De Sampaio aansoek gedoen het, gebruik mag word nie. Volgens dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is De Sampaio se saak juis ʼn oorwinning aangesien dit bewys dat gelyke indiensneming nie as ʼn absolute maatstaf in aanstellings gebruik kan word nie. “Hierdie hofbevel is ʼn oorwinning vir meriete en geregtigheid. Vir die inwoners van die groter Tshwane munisipale gebied beteken die beginsel van meriete dat die beste diens gelewer sal word,” verduidelik Hermann.

De Sampaio, wat sedert 1999 by die Tshwane-munisipaliteit werk, het reeds vier keer aansoek gedoen om die pos waarin hy vir die afgelope drie jaar waarneem. Hy is egter elke keer, weens die onbillike toepassing van regstellende aksie, nie oorweeg nie en die pos is vakant gelaat. Ingevolge die skikking, wat vandag deur die hofbevel bekragtig is, sal De Sampaio nou wel op die kortlys vir die vakante pos geplaas word. Dit volg nadat hy in September vanjaar vir die vierde keer aansoek gedoen het vir die pos van adjunkdirekteur vir stelselontwikkeling in die departement van water en sanitasie by die munisipaliteit. Benewens dat hy op die kortlys geplaas sal word, het die partye ooreengekom dat De Sampaio ook vir ʼn onderhoud genooi sal word en dat gelyke indiensneming nie as ʼn kriterium vir die pos gebruik sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.