Solidariteit: ‘Belastingverligting weer net skynverligting’

geld 3Die vakbond Solidariteit sê Pravin Gordhan, minister van finansies, se aankondiging van belastingverligting is weereens misleidend.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, is Gordhan se aankondiging van ’n R9,25 miljard-verligting in persoonlike inkomstebelasting in sy begrotingsrede weer net skynverligting. Hy sê soos verlede jaar sal belastingbetalers vanjaar ʼn groter proporsie van hul inkomste aan inkomstebelasting afstaan. Le Roux sê enige belastingbetaler wat in 2014 ʼn verhoging kry wat met VPI-inflasie tred hou, gaan in die komende belastingjaar ʼn groter deel van sy belasbare inkomste aan persoonlike inkomstebelasting moet afstaan as in die 2013/14-belastingjaar. “Slegs belastingbetalers wat vanjaar ʼn verhoging van minder as 5,4% kry – en dus in reële terme verarm – sal ʼn kleiner deel van hul belasbare inkomste aan belasting afstaan. Vir die 2014/15-belastingjaar is die belastingdrempel en al die belastingkerwe met sowat 5,4% verhoog. Dit is beduidend laer as die Reserwebank se verwagte styging in die verbruikersprysindeks van 6,3% vir 2014. Die aanpassings veroorsaak in der waarheid ʼn swaarder belastinglas en nie belastingverligting nie.”

Le Roux sê daar kan aangetoon word hoe die belastingverligting wat vanjaar aangekondig is, slegs oëverblindery is deur die volgende voorbeeld te gebruik. “Volgens Gordhan gaan sy aankondiging van “belastingverligting” veral vir diegene wat ʼn inkomste van minder as R250 000 per jaar verdien, voordelig wees. In die 2013/14-belastingjaar sou iemand wat ʼn belasbare inkomste van R250 000 per jaar gehad het, sowat R38 800 of 15,5% van sy belasbare inkomste aan persoonlike inkomstebelasting afgestaan het. Indien sy inkomste van die 2013/14-belastingjaar tot die huidige belastingjaar konstant bly, sal hy in 2014/15 sowat R37 600 of 15% van sy belasbare inkomste aan persoonlike inkomstebelasting afstaan. Dit is hierdie daling wat as “belastingverligting” bestempel word. Dit impliseer egter dat die belastingbetaler se inkomste nie eens met VPI-inflasie tred hou nie. Hy sal met ander woorde moet verarm om die voordeel van die belastingverligting te kry. Indien sy belasbare inkomste net-net met verwagte VPI-inflasie tred hou en met 6,3% toeneem tot R265 750, sal hy in 2014/15 sowat R41 500, of 15,6% van sy belasbare inkomste, aan persoonlike inkomstebelasting moet afstaan. Dit is meer as die 15,5% wat hy in 2013/14 betaal het – sy belastinglas word dus verswaar en nie verlig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.