Solidariteit bevraagteken Woolworths se rassommetjies

Dirk Hermann

“Indien Woolworths sy rasbeleid toepas om sy arbeidsmag verteenwoordigend van die land se rassedemografie te maak, soos hulle beweer hulle doen, sal meer as 3 000 bruin mense en 400 Indiërs die maatskappy moet verlaat,” het die vakbond Solidariteit Dinsdag bekend gemaak. Ingevolge hierdie beleid werk daar ook tans te min wit mense by die groep.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Woolworths voer aan dat sekere groepe ernstig onderverteenwoordig is in sommige areas binne die onderneming en dat dit ten opsigte van daardie areas is waar hy posadvertensies plaas wat die spesifieke rasgroepe teiken. “Woolworths adverteer onder meer ’n bestuurspos wat slegs vir ‘Afrikane, bruin mense en Indiërs’ oop is. Volgens Woolworths se huidige rassesamestelling is daar egter ’n oorverteenwoordiging van bruin mense en Indiërs op alle bestuursvlakke. Woolworths se argument dat hy verteenwoordiging op alle vlakke wil ‘regstel’, is dus nie geldig nie.”

Hermann sê ingevolge Woolworths se huidige rassesamestelling is beide bruin mense en Indiërs in werklikheid op alle vlakke oorverteenwoordig: van topbestuur tot ongeskoolde posvlakke. “Woolworths se benadering tot die toepassing van die Wet op Gelyke Indiensneming is niks minder as absurd nie, aangesien hy volgens dié benadering van 3 420 bruin mense en 402 Indiërs ontslae sal moet raak indien hy konsekwent in sy benadering is. Dit sal ook beteken dat 935 wit mense bykomend deur die groep in diens geneem sal moet word. Solidariteit stem egter nie met Woolworths se benadering saam nie.”

Hermann het benadruk dat Solidariteit volhou dat daar van dié rasbeheptheid afgesien moet word en dat niemand hul werk weens rasgebaseerde beleide moet verloor of van die kans ontneem moet word om vir ’n pos aansoek te doen nie. “Dit is duidelik dat Woolworths glo dat die hele arbeidsmag van die privaat sektor ’n presiese weerspieëling van die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking moet wees. Dit lyk asof groot privaat maatskappye eenvoudig die staat se voorbeeld rakende die toepassing van regstellende aksie volg deur kwotabeleide vir poste in te stel.”

Solidariteit het reeds begin om die wortel van die probleem, naamlik die beginsel van absolute rasseverteenwoordiging, hof toe te neem in sy saak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die vakbond het in Julie vanjaar stukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin die hof gevra word om die SAPD se regstellendeaksieplan in sy geheel ongeldig te verklaar.

Statistiek oor Solidariteit se veldtog teen Woolworths wat op 5 September begin het:

  • Teen 11:00 Dinsdagoggend is 266 488 mense deur middel van inskrywings oor die Woolworths-veldtog op die Solidariteit Beweging se Facebook-blad bereik en die inskrywings is reeds meer as 19 400 keer aktief op Facebook versprei.
  • Daar was reeds meer as 25 965 twiets oor “Woolworths” en “Woolies”. Dié twiets het nagenoeg 16,8 miljoen keer op Twitter verskyn.
  • Intussen het meer as 2 800 mense teen Dinsdagoggend deur middel van briewe en SMS’e hulle misnoeë met Woolworths uitgespreek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frik Groenewald ·

Ek wil weet wat sê ons celebs hieroor? Waar is Bok van Blerk, Steve het darem al iets “ge-tweet” maar waar is die res? Te besig om by Woolies inkopies te doen? Julle maak julle geld uit meestal die blanke bevolking, dink moet ernstig daaroor dink om te steun of oor dieselfde kam as WW getrek te word.

Paul ·

Frik, so net omdat iemand niks oor ‘n negatiewe saak sê nie, is hy of sy outomaties ten gunste daarvan? Dis vreemde logika.

Dominique Thom ·

Ek het daai vraag aan Bok van Blerk op sy wall gevra. Hy boycott saam met ons!

So as Solidariteit se syvers dan nou reg is, dan moet ons aansoek doen, en as jy die pos kry, dit van die hand wys, want wie wil vir so baas werk?!

Jennifer Chatburn ·

Dit is jammer dat ‘n nasie wat soveel jare al probeer in vrede saamleef, steeds deur ras geteiken word..Diskriminasie teen swart, het slegs verander na diskriminasie teen wit…elke persoon verdien gelyke kans om aansoek te doen vir ‘n pos! Die swartmense het al 18 jaar kans gehad om hulle opvoeding te verbeter, die kinders wat in die nuwe era gebore is, weet nie van kleur verskil nie…tog as 2 18-jariges nou aansoek doen vir werk, en een is wit en een is swart…dan word hulle weer eens gekonfronteer met Apartheid! Woolies het nie meer my steun nie…en ek is heel tevrede met die kwaliteit van die Supermark waar ek nou koop….sies Woolies…Ons aanvaar die reenboog nasie…julle verf die hemele swart..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.