Solidariteit Beweging knap skool op vir hul 110de verjaardag

Honderde vrywilligers en die leiers van die Solidariteit Beweging het Vrydag opknappingswerk by een van die armste skole in Pretoria-Wes, Hoërskool Hercules, gedoen.

Solidariteit is op 22 Junie 1902 gestig en die Solidariteit Beweging is Vrydag presies 110 jaar oud. Die opknappingswerk is deel van meer as 200 Doen Goed-projekte wat die afgelope week regoor die land gehou is.

“Ons moes besluit of ons, ons 110de verjaarsdag met uitspattige partytjies wou vier, maar ons het eerder gekies om in ons verjaarsdagweek hard te werk en goed te doen. Ons trek nie ons aandpakke aan vir ons verjaarsdag nie, maar ons oorpakke. Ons verjaarsdagweek was ’n tyd van terugploeg in die gemeenskap,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, gesê.

Buys en Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gehelp om Hoërskool Hercules uit te verf.

Die skool is een van die behoeftigste skole in Pretoria-Wes. Die Solidariteit Beweging het hierdie historiese skool binne een dag byna heeltemal oorgedoen. Nagenoeg 500 vrywilligers het vir die projek opdaag.

Met die hulp van die vrywilligers en borge is die skool se klaskamers geverf, plafonne is herstel, vloere is afgeskuur en herstel, tralies op die stoepe is reggemaak, vensterbanke is afgeskuur en geverf, versperrings is uit dreine verwyder, geute is vervang en die tuin het ook aandag geniet. Maroela Media is verantwoordelik om die rekenaarsentrum oor te doen. Die lokaal is vandag opgeknap en borge word nog gesoek om nagenoeg 80 rekenaars aan te koop.

Behoeftige kinders in die skool is ook gehelp. Skoolklere ter waarde van R400 000 is geskenk en ’n beursfonds vir behoeftige kinders wat verder wil studeer, is bekendgestel. Daar is ook ʼn traumakamer by die skool ingerig.

Hoërskool Hercules se matriekafskeid word Vrydagaand gehou en vier van die skool se dogters het matriekafskeidrokke ontvang. Al die matrikulante het bederfpakkies ontvang en al die matriekmeisies se hare is deur professionele haarstiliste gedoen, hul grimering is ook gedoen en hulle het juwele ontvang.

[nggallery id=45]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.