Solidariteit Beweging kondig burgerlike plan van R1 miljard aan

Die Solidariteit Beweging het Woensdag aangekondig dat hy ingevolge sy burgerlike plan oor die volgende drie jaar meer as R1 miljard in die burgerlike samelewing gaan belê.

Die organisasie sê die plan fokus op verskeie terreine van die Suid-Afrikaanse samelewing wat werksbeskerming, burgerregte, maatskaplike sorg, taal en kultuur, onderwys en opleiding, navorsing en media insluit. Die plan sal deur die 18 instellings van die Solidariteit Beweging uitgevoer word. Die instellings sluit die vakbond Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Kraal Uitgewers, die FAK, Maroela Media en verskeie finansiële en ontwikkelingsinstellings in.

“Ons glo dat ons deur die Solidariteit Beweging-bouplan die burgerlike samelewing in Suid-Afrika sal versterk. Ons wil deur ’n netwerk van kragtige instellings vir ons lede en hulle gemeenskappe ’n toekoms skep sodat hulle blywend, vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan leef. Die Solidariteit Beweging gaan ook aktief uitreik na ander burgerlike instellings om sodoende kulturele vryheid, die regsorde, demokrasie en die Grondwet te beskerm,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging gesê. Die organisasie sê ’n groot deel van die plan se begroting gaan na opleiding wat die bou van ’n nuwe kampus van R150 miljoen waar tersiêre opleiding aangebied sal word, insluit. Volgens die Solidariteit Beweging gaan Die Kampus die tuiste wees van al die Beweging se opleidingsinisiatiewe. Dit sluit in die tegniese kollege, Sol-Tech, wat beplan om in die volgende drie jaar sy kapasiteit te verdubbel, wat hom volgens die Beweging een van die grootste tegniese opleidingskolleges in Suid-Afrika sal maak. Die Kampus sal ook die hoëronderwysinstelling, Akademia, huisves wat deur middel van gevorderde telematiese tegnologie hoër onderwys oor Suid-Afrika heen gaan aanbied. Daar word voorsien dat tot 10 000 studente by 50 leersentrums onderrig sal word.

Die plan kondig ook aan dat die Solidariteit Beweging sy studiehulp radikaal gaan uitbrei. Die Beweging voorsien om binne sewe jaar R50 miljoen per jaar aan studiehulp uit te betaal. “Ons glo dat ’n mens in die volgende geslag belê deur opleiding. Daardeur stel jy jongmense in staat om hulle eie toekoms te skep. Terselfdertyd stimuleer jy ook ekonomiese groei wat vir almal in Suid-Afrika voordelig is,” het Buys gesê.

Lees die volledige Solidariteit Beweging-bouplan by www.solidariteitmedia.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.