Solidariteit boikot bekendstelling van mynmisdaadforum

Die rolspelers tydens ‘n vorige ondertekening van die vredesooreenkoms by Lonmin. Foto: Reint Dykema

Solidariteit is ʼn ondertekenaar van die raamwerkooreenkoms vir ʼn volhoubare mynbedryf wat onder meer voorsiening maak vir die instelling van ʼn mynmisdaadbekampingsforum. As ondertekenaar is die vakbond volkome verbind tot al die voorstelle wat in die ooreenkoms vervat is. Solidariteit het egter besluit om vandag [Woensdag] se bekendstelling van die mynmisdaadbekampingsforum in Rustenburg uit protes te boikot nadat die vakbond in kennis gestel is dat sy en ander vakbonde se erkenning by Lonmin opgehef word. Die opheffing van die vakbonde se erkenning is weens Lonmin se toepassing van die ondemokratiese “wenner-vat-alles”-stelsel en is in teenstelling met een van die bepalings wat vervat is in die raamwerkooreenkoms dat hierdie spesifieke beginsel juis hersien moet word.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê dit is ironies dat die vakbond juis vandag in kennis gestel is dat sy erkenning by Lonmin ten gunste van Amcu opgeskort gaan word. “Die ironie is dat een van die ander bepalings van die raamwerkooreenkoms, naamlik die skep van ʼn mynmisdaadbekampingsforum, vandag in werking gestel word. Die raamwerkooreenkoms word dus vandag tegelykertyd ondermyn en toegepas. Een van die hoofoorsake wat tot die gebeure by Marikana en ander gewelddadige arbeidsonrus gelei het, was die ondemokratiese meerderheidserkenningsbeginsel. Lonmin se opheffing van Solidariteit en ander minderheidsvakbonde se erkenning skep weer eens ʼn klimaat vir voortgesette arbeidsonrus en ontneem lede van minderheidsvakbonde hul grondwetlike reg op vryheid van assosiasie.”

Du Plessis sê Solidariteit doen ʼn beroep op Lonmin om oor sy ondeurdagte besluit te herbesin, veral in die lig van die vakbond en sy lede se onbaatsugtige ondersteuning aan die maatskappy om arbeidstabiliteit by die werkplek te herstel na die Marikana-gebeure. “Indien Lonmin nie Solidariteit se erkenning by die werkplek herstel nie, sal dit duidelik wees dat die maatskappy goeie arbeidsverhoudinge prysgee ten gunste van druk wat deur die meerderheidsvakbond Amcu op hom geplaas word. Amcu word dus nou beloon vir sy afpersing waaraan Lonmin toegee het en Lonmin gaan nou ʼn permanente gyselaar van Amcu se afdreiging wees.” Volgens Du Plessis is daar nou geen magsbalans nie, maar ʼn magsmonopolie vir Amcu. “Demokratiese arbeidsverhoudinge maak nou plek vir ʼn Amcu-eenpartydiktatorskap,” voeg Du Plessis by.

Dit is duidelik dat Lonmin weer eens ’ n korttermynkrisis oplos deur ʼn ondeurdagte besluit en in die proses word ’n langtermynoorlewingskrisis geskep. Lonmin se aandeelhouers, werknemers en Suid-Afrika gaan die prys betaal vir Lonmin se inploffing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.