Solidariteit: ‘Bruines welkom by DKD, maar nie in Wes-Kaap’

Die arbeidshof in Kaapstad het Dinsdag gehoor dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) weier om ʼn finansiële klerk tot senior staatsrekenmeester te bevorder omdat hy bruin is.

Die vakbond Solidariteit het die hof gevra vir ʼn dringende interdik teen die DKD se toepassing van sy omstrede regstellendeaksie-plan. Hierdie optrede volg nadat die DKD met stappe begin het om een van die applikante in die saak, Christo February, se pos te vul. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die DKD het vandag in die arbeidshof in Kaapstad gesê bruin mense is oorverteenwoordig in die Wes-Kaap maar dat daar nie op grond van ras teen hulle gediskrimineer word nie aangesien hulle welkom is om in ander provinsies om werk by die DKD aansoek te doen. “Die standpunt van die DKD beteken dat regstellende aksie een van die grootste sosialemanipulasie-programme in die land sal wees, want oral waar mense oorverteenwoordig is sal hulle verskuif moet word. Die uitsprake is dieselfde as die wat Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder en destydse direkteur-generaal van arbeid, in 2010 gemaak het naamlik dat daar ʼn oorkonsentrasie van bruin mense in die Wes-Kaap is. Waar Manyi dit in teorie gesê het, doen die DKD dit in praktyk en verdedig dit dan ook in die hof.” Uitspraak in die saak word tot Vrydag 24 Augustus voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.