Solidariteit daag Woolworths uit om sy regstel-beleid in arbeidshof te toets

Dirk Hermann

Solidariteit het Woolworths vandag in ’n brief uitgedaag om sy beleid van absolute verteenwoordiging op grond van die land se rassedemografie in die arbeidshof te verdedig. Die vakbond het voorgestel dat Woolworths en Solidariteit die hof gesamentlik nader om uitspraak te kry oor of Woolworths se omstrede advertensiebeleid aan die Wet op Gelyke Indiensneming voldoen.

Volgens Solidariteit het die absolute toepassing van die nasionale rassedemografie in die staatsdiens begin en skynbaar na die privaat sektor oorgespoel en die norm en beleid vir aanstellings geword.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê dit is duidelik dat Woolworths glo dat die hele werkmag van die privaat sektor ’n presiese weerspieëling van die demografiese samestelling van die ekonomies aktiewe bevolking moet wees. “Die wetlike basis vir hierdie argument is onduidelik. Dit lyk asof groot privaat maatskappye eenvoudig die staat se voorbeeld oor die toepassing van regstellende aksie volg en óók kwotabeleide vir poste begin instel.

“Die Wet op Gelyke Indiensneming maak nie voorsiening vir die uitsluiting van enige ras wanneer dit by aansoeke kom nie. Hierdie advertensies kom neer op ’n absolute kwota, wat die wet doelbewus verbied. Dit ons mening dat hierdie rassebenadering tot regstellende aksie geen wetlike of morele grondslag het nie en ’n immorele en onpraktiese benadering tot die toepassing van regstellende aksie is.”

Hermann het Ian Moir, uitvoerende hoof van Woolworths, uitgedaag om saam met hom, in sy hoedanigheid as adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, ’n saak aangaande die kwessie van rasseverteenwoordiging voor die arbeidshof te plaas. “So kan albei partye die geleentheid kry om hul saak rakende verteenwoordiging te stel en die arbeidshof versoek om ’n verklarende bevel oor die kwessie uit te reik.”

Hermann sê indien Woolworths aan die versoek toegee, kan regsverteenwoordigers van albei partye so gou as moontlik ontmoet ten einde so ’n saak te finaliseer en oor ’n prosedure ooreen te kom. Hermann sê in so ’n geval sal elke party sy eie regskoste betaal en sal daar ook nie om ’n kostebevel teen enige van die partye aansoek gedoen word nie.

“Woolworths en Solidariteit sal almal in Suid-Afrika ’n guns doen indien hulle kan help om regsekerheid oor die toepassing van regstellende aksie te kry.”

Solidariteit het gister ’n grootskaalse openbare veldtog teen Woolworths van stapel gestuur nadat die groep geweier het om advertensies vir poste, waarvoor slegs swart kandidate oorweeg sal word, terug te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.