Solidariteit dien klag teen Patrice Motsepe in by adjunkpresident se kantoor

500px-Solidariteit_logo_svg_Die vakbond Solidariteit het ʼn klag teen Assmang, ’n gesamentlike onderneming van African Rainbow Minerals (ARM) en Assore, by adjunkpresident Kgalema Motlanthe se kantoor ingedien.

Solidariteit versoek dat Patrice Motsepe, uitvoerende voorsitter van ARM, tydens die volgende sitting van die mynbouforum, onder leiding van Motlanthe, sy maatskappy se verbreking van die raamwerkooreenkoms vir ʼn volhoubare mynbedryf moet kom verduidelik. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die vakbond is genoop om die klag in te dien weens Assmang se hardkoppige afdwinging van die “wenner-neem-alles”-stelsel, een van die onderliggende redes vir die krisis in die mynbedryf. “Solidariteit het Vrydag ’n finale poging aangewend om Assmang daarvan te laat afsien om ’n vakbondmeerderheidsooreenkoms, wat met die NUM se Noord-Kaapse tak gesluit is, op Solidariteit af te dwing en sodoende Solidariteit se grondwetlike regte te skend om sy lede te verteenwoordig.”

Volgens Du Plessis is die Assmang–NUM–meerderheidsooreenkoms gesluit ingevolge die omstrede artikel 18 van die Wet op Arbeidsverhoudinge wat voorsiening maak vir die “wenner-neem-alles”-beginsel. “Die toepassing van laasgenoemde beginsel was tydens ondersoeke van adjunkpresident Motlanthe se veelpartyforum, wat in 2013 oor die oorsake van die Marikana-insident gedoen is, as een van die onderliggende redes geïdentifiseer wat aanleiding gegee het tot die spanning tussen vakbonde en die geweld wat die arbeidsonrus aangewakker het. Die uiteinde was dat die raamwerkooreenkoms vir ’n volhoubare mynbedryf wat op 3 Julie 2013 deur georganiseerde arbeid, besigheid en die regering onderteken is, voorsiening gemaak het vir die wysiging van artikel 18 om weg te doen met die “wenner-neem-alles”-beginsel soos vervat in klousule 5.3 van die ooreenkoms. Amcu het in gebreke gebly om die ooreenkoms te onderteken. Sowel Assmang as die NUM is gebind tot die ooreenkoms en het met die ondertekening van die ooreenkoms bevestig dat die artikel ongrondwetlik kan wees.”

Du Plessis sê tydens die laaste mynbouforumsitting wat in November 2013 gehou is, was daar reeds ’n aanduiding dat ARM deur Assmang besig was om in gebreke te bly om aan die raamwerkooreenkoms gehoor te gee.

Solidariteit het in 2013 ook ’n klag by Motlanthe se kantoor teen Lonmin ingedien nadat die mynmaatskappy ook in gebreke gebly het om te voldoen aan die raamwerkooreenkoms weens die sluiting van ‘n “wenner-neem-alles”-ooreenkoms met Amcu. Du Plessis sê Lonmin het intussen daadwerklike pogings aangewend om Solidariteit se erkenning by die maatskappy te verseker, ten spyte van die ooreenkoms wat met Amcu gesluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.