Solidariteit en Telkom by KVBA

Solidariteit en Telkom ontmoet mekaar môre by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nadat onderhandelings rakende die telekommunikasiereus se gewysigde loonaanbod vandag op ʼn dooiepunt uitgeloop het. Solidariteit het Telkom daarvan beskuldig dat hy te kwader trou onderhandel nadat hy voorwaardes van sy gewysigde loonaanbod teruggetrek het te midde van ’n proses om mandate van werknemers oor dié nuutste aanbod te ontvang.

Telkom het verlede week ʼn gewysigde aanbod aan vakbonde voorgelê nadat ʼn geskil reeds na die KVBA verwys is toe vakbonde Telkom se finale loonaanbod van ʼn 1,5%-verhoging verwerp het. Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê Telkom se nuwe aanbod van ʼn 6%-verhoging bevat ook verskeie voorwaardes waaronder geen gedwonge afleggings oor die volgende drie jaar nie. “Telkom het vanoggend tydens ʼn vergadering dié voorwaarde teruggetrek. Vakbonde het egter reeds die gewysigde aanbod, wat dié voorwaarde insluit, aan hul lede voorgelê om ʼn mandaat te bekom. Telkom se skielike ommeswaai sal egter tot gevolg hê dat vakbonde weer ʼn nuwe aanbod aan hul lede sal moet voorlê vir oorweging. Die saak sal nou môre by die KVBA voortgaan aangesien ʼn ooreenkoms nie bereik kon word nie.”

Die gewysigde aanbod is vir ʼn driejaarooreenkoms en die tweede en derde jaar van die ooreenkoms sal aan ʼn differensiasiemodel gekoppel word. Dit behels ook dat Telkom gedurende dié tydperk vrywillige skeidingspakkette en vrywillige vroeëaftredepakkette aan werknemers kan bied. Telkom het reeds vroeër ʼn proses begin om dié pakkette vir sy hele werksmag van nagenoeg 21 000 werknemers aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.