Solidariteit gee meer as R200 miljoen se ‘geskenke’ in 2012

Die vakbond Solidariteit het in 2012 sy 110de bestaansjaar gevier deur meer as R205,7 miljoen in die lewens van sy lede en hul gemeenskappe terug te ploeg. Die vakbond het vandag in ’n Kersboodskap aan sy lede gesê dat 2012 baie suksesvol was, ondanks groot onsekerheid in die arbeidsektor.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het Solidariteit se regsafdeling tussen Januarie en November sy slag gewys, deurdat hulle R205,7 miljoen se toekennings in regsake namens Solidariteit-lede beding het. Dié vergoeding bestaan uit meer as R155 miljoen se uitbetalings ten opsigte van beroepsgesondheid en -veiligheidseise en meer as R50,6 miljoen se vergoeding wat in arbeidshofsake en algemene litigasie beding is.

“Solidariteit se kundiges op die gebied van onderskeidelik beroepsgesondheid en -veiligheid, algemene litigasie en arbeidsregtelike aangeleenthede het in 2012 nagenoeg 88 dissiplinêre verhore, 301 konsiliasies, 251 arbitrasies, 430 arbeidshofkonsultasies, 53 hofverskynings en 9 voorverhore by die arbeidshof hanteer,” volgens Kruger. Daarbenewens het Solidariteit in 2012 boonop meer as R6,9 miljoen se eise vir ledevoordele uitbetaal. Hiervan is meer as R6,5 miljoen ten opsigte van die Solidariteit-begrafnisvoordeel uitbetaal, R383 750 ten opsigte van die bevallingsvoordeel uitbetaal en R25 500 ten opsigte van die voordeel vir permanente ongeskiktheid uitbetaal.

Daarbenewens het Solidariteit, in samewerking met al die ander instellings van die Solidariteit Beweging, as deel van sy verjaardagvieringe 110 Doen Goed-projekte landwyd aangepak. Een van die projekte was om Hoërskool Hercules op 22 Junie 2012, die dag waarop die vakbond sy 110de bestaansjaar gevier het, op te knap. Die hele Solidariteit Beweging het op dié dag hul netjiese kantoordrag vir oorpakke verruil. Die skool se klaskamers is oorgeverf, die tuin is bewerk, die skoolsaal se verhoog is gerestoureer en ’n traumasentrum is ingerig – om net ’n paar van die projekte te noem.

Dit was egter Solidariteit se hoofdoel gewees om vanjaar onbillike praktyke in die werkplek te stuit. Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, was dit op verskeie fronte ’n baie besige jaar en die vakbond se arbeidsverhoudingespan en regsafdeling was, soos in die vorige jare, geweldig besig om Solidariteit se leuse van “ons beskerm ons mense” gestand te doen.

Du Plessis het bygevoeg dat die gebeure by Lonmin se Marikana-myn en die onrus in die mynbedryf die bedeling van arbeidsverhoudinge in die land vir ewig verander het. “Die diepte van Solidariteit se strukture is tydens die krisis bevestig deur die uiters bekwame wyse waarop ons voltydse verteenwoordigers die leisels geneem en, te midde van ’n atmosfeer van onsekerheid en anargie in die werkplek, stabiliteit gebring het,” het hy gesê.

Hy het nogtans gewaarsku dat 2013 heelwat uitdagings gaan inhou en bygevoeg dat almal by Solidariteit tydens die feesseisoen sal uitrus om die komende jaar vars en versterk te kan aanpak. “Die ongunstige klimaat van arbeidsverhoudinge wat deur die mynbou-onrus geskep is, gaan heel moontlik na 2013 oorspoel. Solidariteit is voorbereid op enige uitdaging wat hom en sy lede in die gesig mag staar.”

Die Solidariteit Beweging het alle Suid-Afrikaners ’n geseënde feesseisoen toegewens en sy lede vir hul getroue ondersteuning bedank. “Ons wens u ’n rustige, vreedsame en voorspoedige rustyd saam met u geliefdes toe en mag die Here u tydens die feesseisoen behoed en bewaar,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leslie ·

Baie dankie, ek weet nie wat sou gebeur het as daar nie ‘n Solidaiteit was nie
Ons as blankes die wat glo dat die Here ons blank geskape het en all eer aan die here gee deur vir mekaar om te gee en trost wees vir wat ons is en vermag het
Ons moet Eendag maak mag aan ons kinder vertel en waar dit vandaan kom en nie mekaar verraai nie maak nie saak wat dit is nie en liewer aan ons eie mense raporteer dat ons dit self oplos of aan die owerheid oordra
en dat daar ‘n liefde vir mekaar moet wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.