Solidariteit gewalg deur Lonmin-geweld

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Vrydag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se mediakonferensie oor die geweld by Lonmin, gesê die vakbond is gewalg oor die skokkende geweld wat die afgelope week by die Marikana-myn buite Rustenburg gewoed het. Die tragedie het sedert verlede Vrydag 44 lewens geëis. Intussen is meer as 80 mense in die week se geweld beseer en 259 van die betogers gearresteer.

Du Plessis het beklemtoon dat dit jammer is dat die polisie se optrede gister tot lewensverlies gelei het, maar dat die polisie nie verkwalik kan word dat hulle uit selfverdediging opgetree het nie. Die groep gewelddadige betogers het vroeër die week 10 mense op ʼn bloeddorstige manier vermoor.

“Die foto’s en beelde wat tydens die mediakonferensie gewys is, was walglik en het duidelik gewys dat die betogers swaar gewapen was. Twee polisielede wat Maandag probeer het om die geskil op ʼn vreedsame manier op te los, is met pangas doodgekap kort nadat die oproeriges ingestem het tot ʼn wapenstilstand. Intussen het Amcu die polisie Woensdag mislei deur te sê dat die betogers ingestem het om hulle wapens neer te lê. Dit het duidelik nie gebeur nie en sedertdien het alle pogings om met die groep te onderhandel, misluk,” het du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.