Solidariteit Helpende Hand spring in om brandbestryders op Tulbagh te ondersteun

Die Solidariteit Helpende Hand-tak in Ceres het hulle naam gestand gedoen deur gisteraand inderhaas ondersteuning te verleen aan ongeveer 200 brandslaners in die Tulbagh/Wolseley-omgewing waar verwoestende brande sedert Saterdag woed.

Volgens Nellie Malherbe van die Ceres-tak het hulle om 21:00 gisteraand ʼn noodoproep oor die brande op die buurdorp ontvang. “Ek het Ria Cronjé, wat as ʼn koördineerder optree, geskakel en gevra wat hulle nodig het. Sy het gesê hulle het dringend water, koeldrank en kos vir die brandslaners en inwoners wat hulle huise moes ontruim, nodig,” sê Malherbe. “Ons het begin rondbel om te hoor wie kan help en kort voor lank het ʼn groep vrywilligers met ʼn bakkievrag vol water, koeldrank en ys na Tulbagh vertrek.”

In Tulbagh het Ria Cronjé, eienaar van die Kuierbossie Restaurant, huisvesting en kos begin verskaf aan al die inwoners wat reeds hulle blyplekke moes ontruim – onder hulle ʼn groep van 90 skoolkinders – en aan die brandslaners wat reeds drie dae lank probeer om die brande onder beheer te kry.

Hoewel die brande nog nie onder beheer is nie, kan Cronjé nie uitgepraat raak oor hoe mense op haar versoek om hulp op die sosialemedianetwerk, Facebook, reageer het nie. Volgens inwoners is die brande die ergste wat hulle al in hulle leeftyd gesien het. Veral die wynboere in die omgewing hou die situasie met spanning dop, aangesien die veld baie droog is en die brande vinnig na die wynlande kan versprei. Cronjé en die Ceres-tak daag ander organisasies uit om so spoedig as moontlik by die hulppoging betrokke te raak. Cronjé kan by 023 230 1143 of 083 748 4444 geskakel word.

Hoewel Helpende Hand se fokusarea opheffing en bemagtiging deur opleiding is, vorm onmiddellike noodverligting ʼn onmisbare deel van die landwye takke se doen en late. Om by Ceres Helpende Hand betrokke te raak, skakel Nellie Malherbe by 082 788 8654.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.