Solidariteit hof toe oor ‘Woolworths-beginsel’

Die vakbond Solidariteit sê hy het hofstukke aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) beteken waarin die hof gevra word om uitsluitsel te gee oor of ’n werkgewer ’n absolute verbod op aansoeke van sekere rasgroepe vir vakante poste mag plaas.

Solidariteit sê dié stap kom na die afgelope twee weke se Woolworths-herrie omdat die groep advertensies geplaas het wat slegs vir swart Afrikane oop is. Werknemers van die SANB het met Solidariteit in verbinding getree omdat die bloeddiens ook poste adverteer wat slegs vir swart Suid-Afrikaners oop is. “Die ‘Woolworths-beginsel’ waarvolgens mense nie vir poste kan aansoek doen as hulle nie ’n bepaalde ras is nie, moet in die hof getoets word. Soos uit die SANB se advertensies blyk, kom die Woolworths-beginsel wyer voor as net in Woolworths. In die geval van die bloeddiens tree ons namens twee applikante op,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

“As ons saak teen die bloeddiens slaag, sal ons ’n presedent skep wat vir Woolworths en alle ander maatskappye wat absolute uitsluiting op grond van ras toepas, sal geld. Ons gaan waarskynlik reeds die komende week in die hof wees waar ons wil probeer om ’n interdik te kry om die SANB te keer om voort te gaan met die vul van die poste terwyl die hofsaak aan die gang is,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Arbeidshof-afdeling, gesê.

Volgens Solidariteit het die bloeddiens met ’n “plekmaakstrategie” begin en skeidingspakkette vir wit werknemers bo 55 aangebied. “Dertien vakatures is sodoende geskep. Die bloeddiens adverteer nou hierdie poste slegs vir swart werknemers. Twee werknemers, Theodore Reyneke en Sanet Schönfeldt, wat onderskeidelik 27 en 23 jaar by die SANB werksaam was, neem nou hulle werkgewer hof toe omdat hulle nie vir die vakante poste mag aansoek doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.