Solidariteit kry stakingsertifikaat ná onderhandelinge met Mango vasval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Stakingsertifikaat is aan die vakbond Solidariteit uitgereik nadat salarisonderhandelinge met die laekostelugdiens Mango finaal vasgeval het. Solidariteit sal nou met sy lede vergader ten einde op ʼn weg vorentoe te besluit. Die vakbond wil ʼn staking probeer vermy.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê die geskil spruit daaruit voort dat Mango in 2011 skriftelik onderneem het om sy vlieëniers se vergoeding teen 2014 in ooreenstemming met hul eweknieë by die ander laekostelugdienste in die bedryf te bring. In 2012 is ʼn driejaar-salarisooreenkoms deur die partye onderteken om praktiese uitvoering te gee aan die onderneming wat Mango in 2011 gegee het. “Die 2012-ooreenkoms het gewaarborgde minimum verhogings vir 2012, 2013 en 2014 ingesluit. Daar was ʼn verdere klousule wat bepaal het dat indien ander lugdienste in die driejaar-tydperk verhogings vir hul vlieëniers gegee het, die partye die ooreengekome verhogings by Mango sal hersien ten einde pariteit te behou.”

Solidariteit het Mango in 2013 in goeder trou genader om só ’n hersiening te doen maar die lugdiens het besluit om die gees van die ooreenkoms te verbreek en die hersieningsklousule op ʼn tegniese punt by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te laat verwyder. “Mango se besluit om die gees van die bestaande ooreenkoms te verbreek en om hom eerder tot litigasie te wend, dreig om arbeidsvrede en stabiliteit by die lugdiens te ondermyn. Mango se doel met die verwydering van die hersieningsklousule uit die 2012-ooreenkoms was om hom in staat te stel om die beginsel van die behoud van pariteit te ignoreer. Volgens Solidariteit is Mango se skielike ommeswaai ʼn growwe minagting van die pariteitsideaal van die 2011-ooreenkoms.”

Croucamp sê hoewel Mango daarin kon slaag om die KVBA te oortuig om die hersieningsklousule te verwyder, die KVBA ook aanbeveel het dat die partye steeds moet onderhandel oor hoe om pariteit tussen die laekostelugrederye te bereik Solidariteit het probeer om met Mango hieroor te onderhandel, maar sonder sukses. Die vakbond het gevolglik op 4 November 2013 ʼn dispuut na die KVBA verwys. Die KVBA het Mango verplig om verder met Solidariteit te onderhandel en gevolglik het die partye op 17, 21 en 22 Januarie 2014 tydens ʼn konsiliasieproses by die KVBA onderhandelinge voortgesit. “Die verhoging wat Mango tans aanbied, sal tot gevolg hê dat sy vlieëniers steeds ongeveer 16% minder as hul eweknieë by ander laekostelugdienste in die bedryf sal verdien. Dit is strydig met die pariteitsbeginsel van die 2011-ooreenkoms, wat steeds geldig is. Die onderhandelinge het gevolglik op ʼn dooiepunt uitgeloop, waarna die stakingsertifikaat aan Solidariteit uitgereik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.