Solidariteit loof Anglo vir internasionale mynveiligheidstoekenning

Die vakbond Solidariteit het die mynmaatskappy Anglo American gelukgewens nadat die maatskappy die afgelope week bekroon is vir sy bevordering van beroepsgesondheid en -veiligheid in die Suid-Afrikaanse mynbedryf.

Anglo American het die afgelope week tydens die tiende internasionale DuPont Beroepsveiligheidstoekennings die eer ontvang. Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, was Anglo American die eerste mynmaatskappy wat ʼn formele drieledige veiligheidsforum gestig het wat deel vorm van die maatskappy se veiligheidstrategie. “Dié forum is in 2008 op Anglo American se inisiatief gestig en bestaan uit die Anglo American groep maatskappye, vakbonde en die departement van minerale hulpbronne wat saamwerk om veiligheidstandaarde in die Suid-Afrikaanse mynbedryf deurlopend te verbeter,” verduidelik Du Plessis. “Die forum het ʼn aansienlike bydrae gelewer in die afname van ongelukke by Anglo American,” voeg hy by. “Talle mynmaatskappye poog tans om drieledige modelle te ontwikkel ooreenkomstig Anglo American se model omdat hulle die waarde van die inisiatief besef het.”

Die internasionale DuPont Beroepsveiligheidstoekennings gee erkenning aan maatskappye wat buitengewone inisiatief aan die dag lê om beroepsgesondheid en -veiligheid te bevorder. Die toekenningsgeleentheid het vanjaar in Istanbul, Turkye, plaasgevind.Volgens Du Plessis, wat verteenwoordigers van Anglo American namens georganiseerde arbeid as lid van die drieledige veiligheidsforum na Istanbul vergesel het, dra Anglo American se drieledige mynveiligheidsmodel reeds vrugte. “Mynsterftes by die maatskappy het tussen 2006 en 2010 van 36 tot 11 afgeneem,” verduidelik Du Plessis. Die vakbond het nogtans gemaan dat Anglo American nooit tevrede moet wees met mynveiligheidstandaarde nie, maar moet voortgaan om mynsterftes te probeer voorkom.

“Suid-Afrika het in die eerste 248 dae van vanjaar 85 mynwerkers in noodlottige ongelukke verloor,” sê Du Plessis. “Bykans die helfte hiervan (40) was in goudmyne,” voeg hy by. “Terwyl mynmaatskappye soos Anglo American op die skouer kan klop vir hulle bydrae in die vordering wat gemaak is, kan ons nog lank nie tevrede wees met mynveiligheid in Suid-Afrika nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.