Solidariteit: ‘Middelklas grootste verloorders in begroting’

Die vakbond Solidariteit sê ʼn reuse verhoging op die brandstofheffing, ʼn skynverligting in persoonlike inkomstebelasting en die vooruitsig van die implementering van die omstrede tolstelsel op Gautengse hoofweë, maak die Suid-Afrikaanse middelklas die grootste verloorders in vanjaar se begroting.

Die vakbond het egter die minister van finansies, Pravin Gordhan, se aankondiging dat ʼn belastingombudsman in die lewe geroep sal word wat belastingbetalers sal bystaan om probleme met hulle belasting uit te klaar, verwelkom. Benewens ʼn 20c-verhoging in die brandstofheffing, sal motoriste vanaf April vanjaar ʼn bykomende 8c per liter brandstof vir die padongeluksfonds moet opdok. Boonop gaan die Gautengse tolstelsel ook binnekort ingestel word. Solidariteit sê hoewel ʼn nominale verligting in persoonlike inkomstebelasting aangekondig is, sal dit uiteindelik geen noemenswaardige verligting vir die middelklas beteken nie. “Dit is net ʼn skynverligting wat hoofsaaklik aan die uitbreiding van inkomstebelastingkerwe toegeskryf kan word,” meen Piet le Roux, senior ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). Volgens Le Roux sal die Suid-Afrikaanse middelklas nie net die direkte effek van die verhoging in heffings en die instelling van die tolselsel ervaar nie, maar ook veral die las van die indirekte gevolge dra. “Die middelklas sal nou elders moet afknyp wanneer produkte en dienste na aanleiding van die verhogings duurder word,” sê Le Roux.

Terwyl minister Gordhan meen dat internasionale ekonomiese probleme met ongereguleerde kapitalisme te make het, is die vakbond bekommerd dat die minister die krisis van die groeiende welsynstaat wat deur die regering geskep en deur belastingbetalers gefinansier word, uit die oog verloor. Volgens Gordhan het die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert 2009 met gemiddeld 3% per jaar gegroei en in 2012 sal die ekonomiese groei na verwagting slegs 2,7% wees. In 2013 en 2014 word groei van onderskeidelik 3,6% en 4,2% verwag. “Dit beteken dat Suid-Afrika in al die jare van 2015 tot 2020 gemiddeld meer as 10% per jaar sal moet groei om teen 2020 dieselfde resultaat as die regering se groeiplan van 7% per jaar te bereik,” verduidelik Le Roux.Die vakbond hou intussen ook vol dat die regering se verhoogde voorsiening vir onderwys steeds nie die strukturele probleme in die onderwysstelsel sal oplos nie. Staatsbesteding op onderwys sal vanjaar R207,3 miljard rand beloop, wat ʼn toename van 9,4% vanaf verlede jaar is. Dit sal in volgende jaar selfs verder, tot R236 miljard vergroot word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.